President Ramaphosa se oneerlikheid oor Reserwebank is roekeloos en veroorsaak wispelturigheid

2019-03-08
Adv Anton Alberts

Die VF Plus veroordeel die standpunt van president Cyril Ramaphosa dat die Reserwebank genasionaliseer moet word en dat sy mandaat nie net op inflasiebestuur gerig moet wees nie.

Dié uitlating is in teenstelling met die president se onderneming teenoor internasionale beleggers in Davos en is die pad wat lande soos Venezuela en Zimbabwe ook gestap het. Die reaksie op die Rand na dié aankondiging was soos dié van ‘n verskrikte bok wat van ‘n leeu ontsnap. Die vraag is of die Rand se waarde net verder gaan wegvlug en alle Suid-Afrikaners verarm?

Niks waaraan die ANC raak is nie besmet met selfverryking en korrupsie nie, en dit sal geensins anders wees wanneer die ANC-regering die Reserwebank nasionaliseer nie. Die vraag kan tereg gevra word of die ANC nie net hulle gierige hande wil lê op die valuta en ander fondse wat tans in die Reserwebank is nie.

Net soos die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) volle beheer het om die staatsdienspensioenfonds te plunder, so sal die ANC toegang hê tot die fondse in die Reserwebank.

Die ANC kan eenvoudig nie vertrou word om beheer te neem oor die Reserwebank nie. Indien die onafhanklikheid van dié bank wat grondwetlik gewaarborg word in artikel 224(2) op enige wyse deur die ANC-regering bedreig word, sal dit groot skade veroorsaak vir die Rand, die land se ekonomie en ons aansien in die internasionale beleggersgemeenskap.

So ‘n stap sal sekerlik in die grondwetlike hof beveg word en die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om in die belang van alle Suid-Afrikaners te help om hierdie plan van die ANC teen te staan.


Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!