President Ramaphosa se houding jeens munisipale vergrype is skokkend

2021-09-03
Mnr. Michal Groenewald

President Cyril Ramaphosa se houding teenoor probleme by munisipaliteite, en veral oor die 108 munisipaliteite met onbefondsde begrotings, is skokkend en kom neer op ʼn gedweë aanvaarding van die situasie.

Sy verskonings soos dat baie munisipaliteite se inwoners te arm is om munisipale tariewe en belastings te betaal en dus afhanklik is van billike toelaes om te funksioneer, raak nie aan die grondliggende probleme nie en dien bloot as bewys dat die VF Plus se siening oor kleiner munisipaliteite, een van die beste oplossings bied.

Die VF Plus het vandag ten tyde van ʼn parlementêre vraesessie dit aan die president gestel dat die nie-nakoming van wetgewing wat munisipaliteite rig, soos in die jongste ouditeur-generaal se verslag uitgewys word, uiters kommerwekkend is en ernstige probleme vir die betrokke munisipaliteite inhou.

Suid-Afrika het 'n regsreël wat bepaal dat wanneer een stap onreëlmatig is, is alle aksies wat daarop volg, ook onreëlmatig. Die aanvanklike nie-nakoming van wetlike voorskrifte kan daarom ernstige gevolge inhou.

Dit geld ook die 108 munisipaliteite wat onbefondsde begrotings het en daarom nie voldoen aan die vereistes van die Munisipale Finansiële Bestuurswet nie.

Die gevolge hiervan, soos bo uitgespel, beteken eindelik dat die munisipaliteite deur regsaksies gedwing kan word om onwettige heffings en belasting aan duisende verbruikers terug te betaal wat tot totale ineenstorting en ontbinding kan lei.

In stede daarvan om die oorsake van die probleme te pak en reg te stel, word telkens bloot krisisbestuur toegepas.

Die VF Plus wou daarom by pres. Ramaphosa weet of hy as president van die ANC interne stappe gaan neem teen ANC-raadslede en -burgemeesters wat hierdie nie-nakoming ooglopend toelaat.

Inwoners se enigste oplossing om die wanbestuur en vernietiging van plaaslike regering te stop, is om van die onbevoegde ANC ontslae te raak en te vervang met bevoegde besture wat belasting sal aanwend tot die voordeel van alle inwoners.



 

MichalGroenewaldPlaaslikeRegering#CyrilRamaphosa

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!