President moet LUR wat R90 000 per maand vir huurmotor betaal skors om erns oor vermorsing te wys

2019-11-11
Dr Pieter Groenewald

ʼn Voorbeeld van die vermorsing van belastinggeld, soos die onderwys-LUR vir KwaZulu-Natal wat ʼn ampsmotor huur teen R90 000 per maand, wys dat die uitsprake van president Cyril Ramaphosa en sy minister van finansies, Tito Mboweni, oor staatsbesteding en korrupsie net leë woorde is.

Indien die president ernstig is oor die bestryding van bedrog, korrupsie en die vermorsing van belastingbetalers se geld, sal daar sonder verwyl opgetree word teen die LUR, Kwazi Mshengu, wat in die media erken dat hy ʼn luukse ampsmotor huur teen R90 000 per maand.

Dit is skokkend dat die LUR erken dat sy voorganger se motor wel beskikbaar is, maar dat dit glo ‘onpadwaardig’ is, terwyl die verskaffer sê daar is niks fout met die motor nie.

Volgens Mshengu was hy bereid om sy eie motor te gebruik, maar die maandelikse eis hiervoor sou glo meer as R90 000 beloop en hy het daarom besluit om ʼn motor te huur.

Die VF Plus dring daarop aan dat Mshengu sonder meer geskors word en dat hy persoonlik verantwoordelik gehou word vir alle geld wat onnodig bestee is aan die huur van die motor.

Wat hier gebeur is niks anders nie as bedrog en die betrokke amptenare wat die huur van die motor en die betaling daarvan goedgekeur het, moet ook tot verantwoording geroep word.

Voorvalle soos hierdie skep die indruk by amptenary in die openbare sektor dat vermorsing en die stroping van staatsgeld onder die ANC-regering steeds aanvaarbaar is en dat vermanings van politici soos die president en ministers net leë woorde is.

Hoe swaarder die belastingjuk op gewone belastingbetalers se skouers lê, hoe groter sal die weerstand word teen die blatante vermorsing van swaarverdiende belastinggeld soos in hierdie geval.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DrPieterGroenewaldKZNOnderwysLURKorrupsieBelastingbetalersgeld

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!