Premier van Gauteng nooi VF Plus om party se ekonomiese herstelplan vir Gauteng aan hom voor te lê

2021-08-31
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vandag tydens 'n sitting van die Gautengse wetgewer 'n uitnodiging ontvang van die premier, David Makhura, om die party se eie ekonomiese herstelplan in reaksie op die Covid-19-pandemie, die grendelstaat en die onlangse onluste, aan hom voor te lê vir oorweging.

Die VF Plus het die aanbod aanvaar en sal sy plan wat onder andere deur kundige ekonome saamgestel is, aan die premier voorlê en sal druk plaas op die regering sodat hierdie praktiese en haalbare plan in werking gestel word.

Die VF Plus is van mening dat die plan daadwerklik die ekonomie in Gauteng kan herstel, ekonomiese groei kan verseker en werkskepping sal bevorder om armoede aan te spreek. Die plan verwerp ook enige vorm van regeringshulp gegrond op enige rasse-diskriminasie.

Die reaksie van die premier het gekom op 'n mondelingse vraag van die VF Plus rakende die ANC-regering se eie ekonomiese herstelplan ten einde die vernietiging van die Covid-19-pandemie, die grendelstaat en die onluste te behandel.

Tydens die premier se antwoord het hy ook die omvang van die skade aan Gauteng beskryf. Wat die onluste betref, het die premier aangedui dat 80 uit 500 winkelsentrum beskadig is.

R3,5 miljard se voorraad is beskadig of vernietig waarvan R1,5 miljard van die skade aangerig is aan klein- en onversekerde ondernemings. Klein-ondernemings se skade was gemiddeld tussen R30 000 en R500 000.

Die premier het ook in breë die vier pilare van die ANC-regering se ekonomiese plan uiteengesit.

Die VF Plus sal in reaksie sorg dat sy eie ekonomiese herstelplan ingedien word en verseker dat die ekonomiese hulppakkette van die regering nie diskriminerend is nie, aangesien 'n groot deel van klein-ondernemings in die provinsie wit-, bruin- en Indiër-eienaars het wat kollektief werk skep vir heelwat swart mense.

 

GautengAdvAntonAlbertsDavidMakhura#Covid19SAEkonomiesePlan

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!