Polisiekommissaris in Gauteng bloot ‘n toeskouer in die ondergang van die polisie

2019-11-25
Kobus Hoffman

Die polisiekommissaris in Gauteng, lt.genl. Elias Mawela, kan nie langer net toekyk hoe die polisiediens in sy provinsie verval en die skuld op die nasionale polisiediens plaas nie.

Lt.genl. Mawela het verlede week tydens ‘n vergadering van die Gauteng-wetgewer se gemeenskapsveiligheidskomitee gesê hy het nie beheer oor die verskaffing van voorraad wat deur die polisie se nasionale strukture beheer word nie. Dit is onaanvaarbaar en hy moet in sy hoedanigheid as polisiekommissaris druk uitoefen sodat die nodige voorraad betyds ontvang word.

Hy het ‘n plig teenoor die Gauteng-provinsie om te sorg dat die tekort aan voertuie, ammunisie, vuurwapens, polisielede, motoronderdele en entstof vir polisiehonde daadwerklik aandag geniet om te verseker dat die polisie sy plig kan nakom.

Met die agterstand van entstof-voorraad het meer as 70 polisiehondjies sedert September by die K9-polisie-eenheid in Roodeplaat gesterf omdat nie genoeg entstof ontvang is nie. Katgriep het by dié eenheid uitgebreek en die sterftes veroorsaak.

Die polisie se lugvleuel in Johannesburg is onaktief omdat diensverskaffers nie betaal word nie. Talle polisievoertuie is gestrand omdat die nodige onderdele nie verskaf word aan die werkswinkels wat verantwoordelik is vir die onderhoud van voertuie nie. Die ernstige tekort aan ammunisie by polisiekantore wat vir opleidingsdoeleindes gebruik moet word, is ‘n groot kopsorg.

Die VF Plus is ook bekommerd oor die polisie se hantering van landelike veiligheid. Die veiligheid van boere en plaasgemeenskappe moet ten alle tye ‘n prioriteit wees.

Die krimpende polisiekorps in Gauteng is deels te danke aan moedelose en gefrustreerde polisielede wat eerder na die privaatsektor skuif weens onaanvaarbare werksomstandighede. Intussen word minder nuwe lede aangestel as wat die diens verlaat.

Die stand van sake het ‘n negatiewe invloed op die bekamping van misdaad in ‘n provinsie waar misdade soos onwettige mynbedrywighede, taxi-geweld, bendegeweld, alkohol- en dwelmmisbruik toeneem.

Die VF Plus het reeds oorsigbesoeke aan die K9-honde-eenheid, die Johannesburgse lugvleuel en verskeie polisiekantore gebring om probleme op grondvlak onder die loep te neem.

Die party sal aanhou druk op die provinsiale polisiekommissaris plaas sodat hy in belang van die gemeenskap optree deur die werk van polisielede makliker te maak sodat die polisiediens weer soos ‘n geoliede masjien kan funksioneer.


Kontaknommer: 066 010 1066

KobusHoffmanGautengPolisie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!