Polisie verloor 9,5 miljoen rondtes ammunisie in ses jaar

2019-08-09
Dr Pieter Groenewald

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het meer as 9,5 miljoen (9 555 426) rondtes ammunisie die afgelope ses finansiële jare ‘verloor’. In dieselfde tydperk is 4 357 vuurwapens verloor.

Hierdie skoksyfers het nou aan die lig gekom in ‘n antwoord van die minister van polisie, Bheki Cele, op ‘n amptelike parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Die vraag aan die minister was hoeveel wapens en ammunisie in elke afsonderlike provinsie, wat in besit van die polisie was, verloor of gesteel is in hierdie tydperk.

Die meeste rondtes ammunisie wat in een jaar verlore geraak het, was in die Oos-Kaap waar 3,2 miljoen (3 231 406) rondtes in 2016/2017 verlore geraak het.

In Noordwes het 2,2 miljoen (2 247 126) rondtes ammunisie in die boekjaar 2014/2015 verlore geraak luidens die antwoord van die minister. Verlede jaar het Noordwes met amper ‘n halwe miljoen (433 908) rondtes die meeste ammunisie van al die provinsies verloor.

Hierdie syfers is werklik skokkend en totaal onaanvaarbaar veral wat die ammunisie betref. Dit is haas onmoontlik om in te sien hoe meer as 3 miljoen rondtes in een provinsie in ‘n jaar verlore kan raak en niemand weet hoe dit gebeur het nie.

Dit is geen wonder dat geweldsmisdade buite beheer raak nie. Die polisie self is die grootste bron vir die verskaffing van onwettige ammunisie.

President Cyril Ramaphosa en die minister self maak gereeld stellings dat daar strenger vuurwapenbeheer moet wees. Minister Cele het reeds gesê die regering wil die besit van vuurwapens vir selfverdediging strenger maak om geweldsmisdaad, veral moorde, te verminder.

Dit help egter nie om die wettige private vuurwapeneienaars die skuld te gee vir misdaad met vuurwapens nie. Die minister se departement moet die skuld kry. ‘n Vuurwapen sonder ammunisie is nutteloos.

Die maatreëls wat die minister verskaf in sy antwoord as remediërende stappe is die standaard reëls en prosedure, maar dit is duidelik dit word nie toegepas nie.

Die VF Plus sal die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie versoek om dringend hierdie aangeleentheid in die komitee te bespreek en verslag en verantwoording moet deur die verantwoordelike persone gegee word.

Die VF Plus sal eis dat koppe moet rol aangesien hierdie ‘n wandaad teen die publiek van Suid-Afrika is.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!