Polisie verdien kritiek, maar ligpunte soos ‘n nuwe benadering tot plaasmoord word verwelkom

2020-07-24
Dr Pieter Groenewald

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van polisie)

Die VF Plus verwelkom die polisie se nuwe benadering tot plaasmoord. Die party veg sedert 1997 deurlopend om dit op die nasionale agenda te plaas en het in 2017 daarin geslaag om ʼn spesiale debat oor plaasmoord aan te vra in die parlement.

Die vrug hiervan word nou eindelik gepluk en die VF Plus is bewus van daadwerklike pogings om landelike beveiliging op te skerp.

ʼn Bedrag van R3,7 miljard is nou toegevoeg tot die polisie se aansuiweringsbegroting. Dit sal egter nie help sonder resultate waarna die publiek vra nie. In baie gevalle skend swak polisie-optrede die vertroue van die publiek.

Gister het vier lede van die polisie in die hof op Stilfontein verskyn op ʼn aanklag van onwettige sigarethandel. Nogtans is daar baie pligsgetroue en eerbare polisielede wat hul werk goed doen en die VF Plus het die grootste waardering daarvoor.

Daar moet werk van gemaak word so gou doenlik van die vrot appels in die diens ontslae te raak en die Stilfontein-saak is ʼn goeie voorbeeld daarvan dat dit wel gedoen kan word.

Wat geslagsgeweld aanbetref, moet genoem word dat dit nie net die plig van die polisie is om dit te bekamp nie. Dit is deels ʼn maatskaplike probleem en die gemeenskap moet ook sy rol speel in hierdie opsig.

Nogtans kan dit nie ontken word nie dat die strafregstelsel ontoereikend is om vroue en kinders te beskerm wat geslagsgeweld aanbetref. Daar is ook te veel gevalle waar die polisie vroue wegwys wanneer hulle klagte oor geslagsgeweld wil indien.

Dit moet reggestel word. Die strafregstelsel moet beter beskerming aan vroue en kinders bied deur toe te sien dat oortreders vervolg en gestraf word.

Dit is kommerwekkend dat die polisie se kommunikasiestelsels afgegradeer gaan word met die aansuiweringsbegroting. Kommunikasie speel ʼn kardinale rol in die polisie se effektiwiteit om misdaad te bestry.

Die VF Plus sal voortgaan om polisielede wat dit verdien, te salueer, maar sal ook voortgaan om waar nodig skerp kritiek uit te spreek om in belang van die publiek seker te maak daar word ontslae geraak van die vrot appels in polisie-uniform.

Die VF Plus veroordeel daarom vanoggend se hardhandige optrede teenoor lede van die publiek wat by die parlement betoog het vir die oorlewing van die restaurant- en toerismebedryf. Die gebruik van waterkanonne en skokgranate om die mense uiteen te jaag, was totaal oorbodig en is ʼn voorbeeld van onnodige magsmisbruik van die polisie.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

PolisieDrPieterGroenewaldPlaasmoorde#BhekiCelePolisiebrutaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!