Polisie kortwiek wettige voornemende vuurwapen-eienaars met swak diens

2021-09-15
Dr Pieter Groenewald

ʼn Nuusberig (Wapenlisensie hernu ‘soos Matriek skryf’, Netwerk24: 15 September 2021) dat lang rye mense daagliks by polisiekantore moet staan en wag om aansoek te doen vir ʼn nuwe vuurwapenlisensie of die hernuwing van ʼn lisensie, en waar slegs twintig aansoeke per dag hanteer word, is totaal onaanvaarbaar.

Dit is niks anders nie as ʼn metode om wetsgehoorsame burgers, wat hul vuurwapenlisensies betyds en binne die bepalings van die wet wil hernu, of aansoek wil doen om ʼn nuwe lisensie, te ondermyn en te kortwiek deur die vertraging van dienste by polisiekantore.

Ek ontvang daagliks landwyd klagtes van die publiek oor onder meer polisiekantore se aangewese vuurwapenlisensie-beamptes wat nie hul taak na behore uitvoer nie en in sommige gevalle nie eens voorafgemaakte afsprake nakom nie.

Dit skep die indruk dat daar ʼn landswye poging is om vuurwapeneienaars moedeloos te maak om hulle sodoende te ontmoedig om nuwe vuurwapenlisensies te bekom of ʼn bestaande lisensie te hernu.

Die aangeleentheid moet dringend opgelos word en ek sal ʼn skrywe rig aan die kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, om die situasie onder sy aandag te bring.

Hy sal ʼn direktief moet uitvaardig wat bepaal dat persone na enige van die polisiekantore in hul omgewing kan gaan vir hul vuurwapenlisensie-aansoek en nie net na ʼn spesifieke kantoor die naaste aan hul woonadres nie.

Daar moet ook seker gemaak word dat daar genoeg behoorlik opgeleide polisielede beskikbaar is om die publiek met vuurwapenlisensies tot diens te wees.

 

 

PolisieDrPieterGroenewaldVuurwapenlisensies

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!