Polisie in Gauteng vang bloulig-rower, maar sal baie harder moet werk om misdaad te bekamp

2021-11-19
Kobus Hoffman

Die VF Plus in Gauteng neem kennis van die inhegtenisneming van meer as 50 verdagtes sedert Maart vanjaar wat hulle onder andere as polisiebeamptes voorgedoen het en in wie se besit ongelisensieerde wapens en polisie-uniforms gevind is.

Talle van die persone was glo ook betrokke by voertuigkapings.

As deel hiervan het lede van die polisie se intelligensie-misdaadeenheid in Johannesburg-Noord Woensdag in Ivory Park 'n vermeende bloulig-rower in hegtenis geneem.

Uniforms van die polisie en Tshwane se metropolisie, drie AK47- magasyne, twee R1-magasyne, ʼn pistool en meer as 100 rondtes ammunisie is in die persoon se besit gevind.

Die VF Plus het reeds vanjaar verskeie versoeke gerig aan Gauteng se polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om dringend aandag te skenk aan die polisie se opleiding in vuurwapens en konflik.

Daar moet ook seker gemaak word dat polisiekantore en lede genoeg vuurwapens, ammunisie en voertuie het om hul taak suksesvol uit te voer.

Weens stygende misdaadsyfers is die publiek besig om vertroue in die polisie te verloor en daarom rus daar ʼn plig op lt.genl. Mawela se skouers om toe te sien dat die vertroue herstel word, veral in die lig van die komende feestyd.

Die VF Plus sal nie sy druk op lt.genl. Mawela verslap om alles in sy vermoë te doen om toe te sien dat die inwoners van Gauteng in ʼn veilige omgewing kan leef en werk nie.

 

 

KobusHoffmanGautengPolisieBlouligbendes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!