Plaasaanval beklemtoon noodsaaklikheid van gemeenskapsveiligheidsnetwerke

2020-03-04
Jan van Niekerk

Die jongste plaasaanval in die Vrystaat op ‘n bejaarde vrou van Verkykerskop in die Vrystaat beklemtoon die noodsaaklikheid vir meer effektiewe landelike beveiliging, effektiewe plaaslike veiligheidsnetwerke en goeie samewerking met die polisie.

Jan van Niekerk, VF Plus-provinsiale leier in die Vrystaat, was op die toneel nadat die veiligheidsnetwerk uitroepe om hulp ontvang het.

Twee van die drie aanvallers is deur die boere aangekeer in samewerking met die polisie wat op dié aanval gereageer het.

Die VF Plus verwelkom die spoedige reaksietydperk van boere wat van ver met twee privaatvliegtuie en ‘n privaat-helikopter gereageer het. ‘n Polisiehelikopter het ook bystand verleen. Die VF Plus loof ook die goeie samewerking tussen die polisie en die boere se veiligheidsnetwerk.

Plaaslike gemeenskappe is weerloos en moet soms vir etlike ure wag op hulp vanaf stedelike gebiede. Die VF Plus moedig daarom alle boere aan om in te skakel by gemeenskapsveiligheidsnetwerke om vinnig reaksie en hulp te kry in gevaarsituasies. In die stryd om veiligheid op die platteland moet boere nie op hul eie aangewese wees nie.

Die VF Plus het nog altyd erns gehad met plaasaanvalle en sal volgehoue druk op die regering plaas om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Die VF Plus spreek sy innige simpatie uit teenoor die slagoffer, familie en vriende vir die trauma waardeur hulle moes gaan en wens die slagoffer ‘n spoedige herstel toe. Die party sal die nodige hulp verleen om te verseker dat die derde verdagte opgespoor en dat die drie verdagtes vervolg word sodat geregtigheid geskied.


Kontaknommer: 084 206 3375

VrystaatDévarSmitPlaasaanval

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!