Phokwane: Neem aan openbare deelnameproses deel om buitensporige verhogings te stuit

2021-04-06
Theo Joubert

Die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) het op 29 Maart 2021 ʼn konsepbegroting aanvaar wat volgens die VF Plus onredelike belasting- en tariefverhogings voorstel.

Die raad het in 'n tydelike begroting eiendomsbelasting in Desember 2020 met 'n buitensporige 21,5% verhoog, met die steun van die provinsiale regering. Nou word nog 'n verhoging van 7% voorgestel. Verder word daar voorgestel dat alle munisipale tariewe met 10% verhoog, ver bo die huidige inflasiekoers van 3.88%.

Hierdie verhogings is totaal onredelik gesien in die lig van die drakoniese inperkingsregulasies waaronder Suid-Afrikaners nou meer as ʼn jaar lank gebuk gaan. Die inperking het ʼn uiters negatiewe effek op die ekonomie gehad en besteebare inkomste is aan die krimp. Sulke hoë verhogings is verder ʼn klap in die gesig van betalende verbruikers en belastingbetalers inaggenome die swak dienslewering wat aan die orde van die dag is.

Weens volgehoue finansiële wanbestuur het munisipaliteite die afgelope aantal jare tot so ʼn mate finansieel agteruitgegaan dat meeste nou met miljoene rande se uitstaande skuld aan Eskom en ander skuldeisers belas is.

Dit veroorsaak tekorte op begrotings wat dit, in die geval van Phokwane, uit verhoogde tariewe en belastings probeer inhaal. Dit is egter onaanvaarbaar dat ANC-beheerde munisipaliteite nou van verbruikers en belastingbetalers verwag om die prys te betaal vir jarelange wanbestuur.

Die VF Plus doen hiermee ʼn beroep op gemeenskappe en nie-regeringsorganisasies om deel te neem aan die openbare deelnameproses wat gevolg moet word voordat die finale begroting deur die raad goedgekeur kan word. Dit is ʼn geleentheid vir die gemeenskap om insette te lewer en besware te opper.

Die datums vir wykvergaderings en sluitingsdatums vir hierdie proses sal per sosiale media gekommunikeer word sodra dit bekend word.


Navrae: 072 938 8588

 

TariefverhogingsPhokwaneMunisipaliteitTheoJoubert

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!