Peperduur drank op afskeidsgeselligheid vir afgetrede weermaghoof is skandalig en moet ondersoek word

2021-06-10
Dr Pieter Groenewald

Die groot hoeveelhede peperduur drank en whiskey wat glo deel was van ’n afskeidsgeselligheid vir die afgetrede weermaghoof genl. Solly Shoke is skandalig en vrae moet beantwoord word oor wie daarvoor betaal het.

Dit is ironies dat hierdie vermorsing van geld plaasgevind het terwyl die weermag se begroting teruggesny is en Shoke self met sy uittrede gewaarsku het dat die weermag nie sy grondwetlike verpligtinge sal kan nakom met besnoeiings aan sy begroting nie.

Luidens mediaberigte was die geselligheid waar uitsoek-whiskey in piramides op die gaste se tafels gepak is, onlangs by die leër se steunbasis in Bloemfontein.

Die vraag wat nou beantwoord moet word, is wie vir die duur drank betaal het. Indien dit gedoen is met een of ander personeelfonds, sou dit daarop neerkom dat hoofsaaklik gewone soldate hierdie spandabelrigheid geborg het. Hulle sal dan kennis moet neem waarvoor hul geld aangewend word.

Die VF Plus sal parlementêre vrae hieroor rig aan die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

Genl. Shoke se nalatenskap sal nou nie meer wees oor wat hy in sy termyn as hoof van die weermag gedoen het nie, maar oor die spandabelrige wyse hoe hy daar weg is.



DrPieterGroenewaldWeermaghoofGenlSollyShoke

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!