Parys-waterkrisis: VF Plus dring aan op ministeriële ingryping

2021-07-27
Tammy Breedt

Ná jarelange waterprobleme sit sommige Parys-inwoners nou weereens vir drie weke sonder water.

Die VF Plus het ‘n skrywe gerig aan die minister van water en sanitasie, me. Lindiwe Sisulu, om spoedige ingryping te versoek.

Dié dorp het al maande lank beurtwater in sekere gebiede.

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit (Parys, Edenville, Heilbron, Koppies, Vredefort) gaan gereeld gebuk onder sy eie rioolprobleme sowel as aangrensende munisipaliteite se riool wat stroomaf tot in Parys vloei en ‘n onleefbare situasie skep.

Wat hierdie situasie vererger, is die aantal aftreeoorde en ouetehuise in die betrokke gebied. Dit is ‘n groot risiko vir bejaardes en die gemeenskap as geheel en die nakoming van Covid-19-protokolle word onmoontlik gemaak.

Watertenks wat veronderstel is om inwoners te help, is onbetroubaar en meestal afwesig. Hierdie watertenks word teen groot koste gehuur aangesien Ngwathe nie sy eie watertenks het nie.

Hierdie kwessies word gereeld by die munisipaliteit gerapporteer waar daar niks van kom nie.

Indien die ANC-regering deurlopend die infrastruktuur in stand gehou het met die munisipale infrastruktuurtoelaag tot sy beskikking, sou die haglike situasie vermy kon word.

Die ANC-regering wag totdat daar ‘n waterkrisis in die munisipaliteit ontstaan en poog dan om krisisbestuur toe te pas eerder as om infrastruktuur deurlopend in stand te hou en op te gradeer.

Die VF Plus sal aanhou om volgehoue druk op die regering en amptenare te plaas om krisisse vroegtydig hok te slaan.



TammyBreedtWaterkrisisNgwatheParys

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!