Parlementêre debat: Regeringsvoorstel van voorgeskrewe of gedwonge beleggings van staat se pensioenfonds wat miljoene se pensioen-spaargeld bedreig - Onvoorsiene gevolge van gedwonge beleggings met staat se pensioenfonds moet nou verreken word

2019-09-10
Wouter Wessels

Dit sou die ANC-regering loon om die onvoorsiene gevolge te verreken wat sy voorneme van gedwonge beleggings met die staat se pensioenfonds inhou.

Beleidsrigtings begin meermale met edel motiewe sonder om die onvoorsiene gevolge in gedagte te hou. Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die regering om die onvoorsiene gevolge van hierdie besluit nou in ag te neem, en nie eers wanneer dit te laat is en die skade aangerig is nie.

Beleggings in ontwikkelingsbates is van die grootste belang vir ekonomiese vooruitgang en werkskepping. Daar moet egter lesse uit die verlede geneem word. Die destydse Nasionale Party het dieselfde met die staat se pensioenfonds gedoen en teen 1994 was daar niks geld oor nie.

Dieselfde gaan weer gebeur. Die pensioenarisse gaan al hul geld verloor in hierdie dobbelspel. Die stewige posisie van die fonds gaan ongedaan gemaak word met ʼn skerp afname in beleggingsgroei en gaan beleggers verarm. Die gevolg sal wees dat lede langer sal moet werk en meer sal moet bydra om ʼn sinvolle aftrede te verseker.

Die kern van die probleem is dat die regering die staat se pensioenfonds wil aanwend om staatsondernemings te red wat die afgrond in bestuur en leeg geplunder is.

ʼn Afleiding wat gemaak kan word uit die ANC en EFF se steun vir die voorstel, is dat daar sonder twyfel diegene is wat reeds hul tande slyp oor die vooruitsig van ʼn nuwe bron van miljarde rande om te plunder.

Die regering moet ook in gedagte hou dit is die armstes in die gemeenskap wat die meeste gaan lei indien hierdie ondeurdagte beleidsvoorstel deurgevoer word.

Die ANC volg al die verkeerde voorbeelde van die Nasionale Party na en gaan dieselfde paadjie stap. Hy gaan ook die staatsamptenare se pensioengeld verloor en hy gaan uiteindelik ook die mag verloor. Dis net ʼn kwessie van tyd.


Kontaknommer: 082 674 6670

WouterWessels

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!