Parlementêre debat: Erfenisdag - Aanslag op Afrikaans bevorder nie nasiebou

2019-09-19
Heloïse Denner

Moedertaal is onlosmaaklik deel van elke volk. Dit is die taal waarin mense werk, droom en bid. Daarom is dit jammer dat die ANC-regering aan die een kant praat van nasiebou terwyl hy aan die ander kant ʼn aanslag teen Afrikaans voer.

Moedertaalerfenis is een van die belangrikste faktore wat alle Suid-Afrikaners maak wie en wat hulle is, saamgevoeg in ʼn kleurryke en unieke tapisserie van verskillende tale en kulture.

Tydens onderhandelinge oor die Grondwet in 1995 het die grondwetskrywende vergadering ‘n advertensie geplaas wat gelui het: “20 miljoen vroue, 18 miljoen mans, 8 gelowe, 25 kerkgroepe, 31 kultuurgroepe, 14 tale, 9 rassegroepe – 1 land”.

Hierdie mooi taaltapisserie word nou bedreig deur ‘n regering wat nasiebou en sosiale kohesie voorstaan, maar onwillig is om meertaligheid te bevorder.

Die 2008-ministeriële komiteeverslag oor transformasie, sosiale kohesie en die uitwissing van diskriminasie in openbare hoër onderriginstellings, het bepaal dat daar substantiewe en voldoende veeltaligheid in akademiese en ondersteuningsdienste in alle openbare universiteite in Suid-Afrika moet wees. Dit het nie gebeur nie.

Die huidige regeringsbeleid bevorder nie die ontwikkeling van inheemse tale nie. Afrikaans, waarvan die hoër funksies reeds ontwikkel is, word gebruik as politieke speelbal en word as die “taal van die onderdrukker” bestempel as deel van die ANC en EFF se apartheidsretoriek om politieke gewin weens ʼn gebrek aan werkbare beleid.

Iemand soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is openlik vyandig teenoor Afrikaans en stel die gebruik van die taal selfs gelyk aan rassisme. Die EFF se minagting van Afrikaans in sy openlike stryd teen wittes is welbekend, al is die meerderheid Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie wit nie.

Indien dit die voorbeeld is wat die land se leiers stel, kan daar nie verwag word om wedersydse respek vir mekaar se taal en kultuur te hê en nasiebou te kweek nie. Hoe kan debatte oor taalerfenis gehou word terwyl miljoene Afrikaanssprekendes se taal deur ‘n populistiese groep grypdiewe misbruik word in hul desperate poging om aan mag vas te klou?

Dit is en was nog altyd die VF Plus se standpunt dat meertaligheid bevorder moet word, nie net deur dit te praat nie, maar deur die uitbou van die hoër funksies van al elf die land se amptelike tale.


Kontaknommer: 072 997 8315

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!