Beloftes dat die SKA (teleskoop-projek) groot voordele gaan bring vir sekere gebiede in die Noord-Kaap, het nie gerealiseer nie en die voordele van die projek word eerder na ander dele van die wêreld gekanaliseer ten koste van die plaaslike inwoners.
Weens die vereiste radiostilte wat alle boerderybedrywighede uitsluit, is groot dele produktiewe weiding uit die ekonomie onttrek.
Tydens vandag se begrotingsdebat vir wetenskap en tegnologie het dit geblyk dat die minister die (SKA)-teleskoop-projek in die Noord-Kaap as een van die departement se pronkstukke beskou.
Die VF Plus het egter daarop gewys dat dit in die Karoo Hoogland- en Kareeberg-munisipaliteite geleë is, wat selfs in goeie jare marginale boerderygebied is. In die huidige vernietigende droogte kan dit hierdie gemeenskappe selfs onlewensvatbaar laat word.
Die probleem is dat die SKA, met al die wetenskaplike kennis wat dit voortbring, slegs werksgeleenthede tydens die konstruksiefase in die gebied geskep het. Kennisgebaseerde werksgeleenthede wat uit die projek voortvloei, word in universiteitstede in Suid-Afrika en die buiteland geskep.
Vir die natuurlewe van die omgewing is die gevolge selfs meer rampspoedig. Waterkrippe wat veeboere in stand gehou het, was vir klein en groot soogdiere en selfs reptiele die enigste beskikbare bronne. In die omgewing van uitgediende krippe kan die oorblyfsels van diere gevind word, wat van dors omgekom het.
Gemeenskapslede rapporteer ook, volgens dr. Boshoff, dat die openbare deelnameproses frustrerend was. Diegene met die nodige inligting was nie beskikbaar nie en beloofde opvolgwerk het agterweë gebly. Die projek het ook vereis dat meer grond van veeboerdery onttrek word as wat aanvanklik gesê is.
Die VF Plus het, buiten vir die debat, 'n vraag aan die minister gerig oor die omgewingsimpakstudie wat gedoen is. Sy reaksie word afgewag.
Kontaknommer: 074 166 5540