Die sosiale muilband wat vroue oor die eeue verhinder het om hul volle potensiaal te bereik, bestaan vandag nog steeds.
Marié du Toit, of te wel, die bekende digter Totius se suster, het byna honderd jaar gelede die volgende hieroor gesê: “Alle oorspronklikheid en verskeidenheid is verdring in ‘n doodse alledaagse groef. Wie weet watter talentvolle vroue Afrika al kon gehad hê was dit nie vir die verlammende, dodende idee wat hier heers omtrent wat ‘n meisie en vrou moet wees nie.”
Die VF Plus ondersteun vroueregte, maar weet dat dit in die praktyk slegs verwesenlik kan word deur die bemagtiging van vroue deur opleiding en die skep van gelyke geleenthede.
Die probleem in die Suid-Afrikaanse konteks spreek duidelik uit die feit dat die betrokke departement, wat reeds die kleinste begroting van alle departemente ontvang, steeds 57% van sy geld aan salarisse bestee. Die begroting is duidelik ontoereikend.
Dit laat slegs 43% van die begroting oor vir projekte vir vroue, jeugdiges en gestremdes nie. Die departement sal daarom uiters spaarsamig met sy begroting te werk moet gaan.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die departement se program oor sanitêre waardigheid wat daarop gemik is om in vroulike leerlinge se basiese sanitêre behoeftes te voorsien. Dit is geloods in KwaZulu-Natal, samelopend met twee ander soortgelyke projekte. Soos reeds blyk in die Vrystaat, is daar verwarring rondom die projek en dit is sonder enige duidelik uitkoms of mikpunt.
Daar moet daadwerklike aktivisme in terme van geweld teen vroue en kinders wees. Die meeste slagoffers van verkragting, molestering en huishoudelike geweld, is weens intimidasie te bang om hierdie voorvalle aan te meld.
In baie gevalle skiet die polisie se hantering van hierdie sake ver tekort en word slagoffers nie beskerm nie. Hierdie tekorte in die stelsel lei tot ‘n lae aanmeldingsyfer van die misdrywe en daarom is baie seksuele oortreders op vrye voet en is geslagsgeweld endemies.
Die VF Plus steun maatreëls wat daarop gemik is om vroue en kinders as kwesbare landsburgers te beskerm teen misbruik en mishandeling.
Mense met gestremdhede moet bemagtig word met toepaslike opleiding en hul regte moet beskerm word. Blinde en dowe persone se toegang tot onderwys en kommunikasie met staatsinstellings in braille en gebaretaal moet prioriteit geniet.
Die VF Plus sal hom daarvoor beywer dat die vroue van Suid-Afrika saamstaan en veg vir gelyke geleenthede en gelyke regte vir almal.
Kontaknommer: 082 490 6663