Parlementêre begrotingsdebat: Polisie - Politieke leiers van die land faal die polisie

2019-07-11
Dr Pieter Groenewald

Die politieke leiers van die land faal die polisie en die publiek wat dienslewering aanbetref en dit word aan die voetsoldate oorgelaat om die kastaiings uit die vuur te krap en vrede en stabiliteit in die land te bewaar.

Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, om namens die publiek vir die gewone polisielede op te staan. Verlede maand in Noordwes is gesien hoe polisielede van die openbare orde-eenheid 24 uur aan diens moes bly omdat die burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit nie bereid was om met die ontevrede gemeenskap te praat nie.

Wat vuurwapens aanbetref, sal die VF Plus die minister se voorgestelde vuurwapenamnestie-periode net steun indien eienaars van vuurwapens, wie se lisensies nie betyds hernu is nie, in dié periode die geleentheid gegun sal word om heraansoek te doen om die lisensies te hernu.

Die minister weet goed die polisie het nie die vermoë om ʼn groot aantal vuurwapens wat dalk ingehandig moet word, te berg, te beveilig en te bewaar nie.

Oor die vuurwapenkwessie is dit is ook belangrik om kennis te neem van inligting wat die minister self verskaf het op ʼn vraag van dr. Pieter Groenewald in die parlement, en dit is dat meer mense jaarliks in Suid-Afrika vermoor word deur messe en ander skerp voorwerpe as deur vuurwapens. Suid-Afrika ʼn gevaarlike land is en mense het die reg om hulself te beskerm.

Die minister self is daagliks omring van lyfwagte wat elkeen ʼn vuurwapen dra. Waarom moet hierdie reg die publiek ontneem word?

Plaasmoorde moet dringende aandag geniet, en daar is positiewe tekens in dié verband. Na gesprekke wat die VF Plus gehad het met die nasionale kommissaris- en die minister van polisie, is daar nou ook gesprekke aan die gang tussen die polisie en die Transvaalse Landbou-Unie van Suid-Afrika.

Gesprekke tussen Agri SA en die polisie is al geruime tyd aan die gang. Hierdie gesprekke met albei instellings moet nou voortgesit word.

Dit moet voortgesit omdat goeie samewerking tussen die partye begin ontwikkel wat landelike beveiliging aanbetref wat sal lei tot ʼn beter strategie om landelike gemeenskappe en boere te beskerm.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!