Parlementêre begrotingsdebat: Internasionale verhoudinge en samewerking - Skade aan Suid-Afrika se buitelandse beeld moet herstel word

2019-07-11
Dr Corné Mulder

Suid-Afrika se beeld is erg geknou in die nege jaar met pres. Jacob Zuma aan bewind. Die regering kan nou kies om voort te gaan op dié weg van skande, of om ʼn nuwe koers in te slaan om die land se beeld en aantreklikheid in die buiteland te herstel.

Suid-Afrika het by die Afrika-Unie gesê hy sal voortgaan om op te staan vir ʼn regverdige en vreedsame orde in die wêreld.

Wat die kwessie van Israel en Palestina aanbetref, het die minister, Naledi Pandor, nagelaat om te sê of die Suid-Afrikaanse regering steeds verbind is tot ʼn tweestaat-oplossing vir dié streek, of dat Israel die reg het om sy soewereiniteit en sy inwoners te beskerm. Dit is belangrik en die VF Plus sou dit wou hoor.

Die minister het onlangs aan haar personeel gesê waardes en integriteit is vir haar belangrik en dat sy korrupsie verafsku. Suid-Afrika het egter ʼn land sonder gevolge geraak.

Zinzi Mandela-Hlongwane, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke en Bruce Koloane, die ambassadeur in Nederland, is voorbeelde hiervan.

Mandela-Hlongwane het onlangs op sosiale media gesê wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe wat soos ongenooide gaste weier om te loop”. Sy het wit Suid-Afrikaners ook uitgekryt as verkragters en afstammelinge van Van Riebeeck. Sy is oor die vingers geraps, maar dit was al.

Sy het daarna voortgegaan met haar kwetsende uitlatings op twitter. Tog is haar aanstelling verleng tot aan die einde van die jaar. Dis nie aanvaarbaar nie.

Wat Koloane aanbetref, wys alle vingers na hom oor sy betrokkenheid by die landing van die Guptas op die lugmagbasis Waterkloof, maar ook hier was haas geen gevolge nie. Hy is vir twee maande geskors waarna hy bevorder is tot ambassadeur in Nederland.

Dié stand van sake kan nie geduld word nie. Die VF Plus doen ʼn beroep op die minister om te doen wat sy sê en om streng op te tree in sulke gevalle.

Suid-Afrika sal voortaan ook moet ag slaan op sy ellendige ekonomiese toestand met die aanstelling van verteenwoordigers in die buiteland. Dit is belangrik, maar selfs meer belangrik is of die land dit kan bekostig of nie.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!