Parlementêre begrotingsdebat: Handel en Nywerheid - Departement van handel en nywerheid sal met erns moet optree om ekonomie aan die groei te kry

2019-07-12
Jaco Mulder

Terwyl die staatspresident hoë verwagtinge het van die departement van handel en nywerheid om vooruitgang te maak op die gebied van ekonomiese transformasie en werkskepping en die skep van ʼn “beter Afrika en wêreld”, is daar nog nie eens duidelikheid oor hoe die departement gaan funksioneer nie.

Die departement is van kardinale belang vir ekonomiese groei in Suid-Afrika wat ook in ʼn kritieke stadium van sy jong demokrasie staan gegewe die vernietigingswerk van die ANC oor die afgelope 25 jaar. Ekonomiese groei het feitlik tot ʼn stilstand gekom en beleggersvertroue is op ʼn ongekende laagtepunt. Staatsinstellings soos Eskom en de SAL is bankrot.

ʼn Goeie vertrekpunt is dat die minister, Ebrahim Patel, erken dat staatskaping, swak regering en korrupsie ʼn groot rol hierin gespeel het. Navorsing van die regering self toon aan dat oorbetaling op die infrastruktuur-rekening gelei het tot die verlies van 76 000 poste en R27 miljard per jaar.

Die tyd sal wel ook die bewyse lewer dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) misluk het om inkomstegelykheid ingevolge die Gini-model uit die weg te ruim. Dit het bloot gelei tot die verryking van ʼn politieke elite en die gemiddelde Suid-Afrikaner het eerder verarm as gevolg daarvan.

Samewerking tussen staatsdepartemente moet verbeter sodat mikpunte aangepas kan word.

Staatsuitgawes moet besnoei word en openbare ondernemings moet geprivatiseer word.

Belastingverligting is ook nodig beleggers te lok, die ekonomie te stimuleer en werk te skep.

Die beste planne sal egter nie werk solank as wat die staat armoede probeer uitwis deur bloot rykdom te herverdeel nie. Die volgende is nodig:

• Die ekonomie moet toegelaat word om te groei.
• Staatskaping, korrupsie en wanbestuur moet uitgeroei word.
• Krag moet volhoubaar aan industrieë gelewer word.
• Beleggersvertoue moet herstel word.
• Sekerheid rondom eiendoms- en waterregte.
• Die onafhanklikheid van die Reserwebank moet gewaarborg word.

Hiersonder sal enige groei nie realiseer nie. Intussen kan die regering en die departement seker wees daarvan dat die VF Plus die departement se werksaamhede en die besteding van sy begroting noukeurig sal dophou om seker te maak belastinggeld word nie verder vermors nie.


Kontaknommer: 082 466 3786


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!