Parlementêre begrotingsdebat: Energie - Die ANC moet erns maak met die vryheid wat energie ‘n land bring

2019-07-11
Dr. Wynand Boshoff

ʼn Land wat genoeg krag het, het alles wat hy benodig. Daarsonder, of met gebrekkige krag, het ʼn land groot probleme soos Suid-Afrika maar al te goed weet met sy Eskom-ervaring. Die ANC-regering sal krag ernstig moet opneem, veral ook wat die voordele van hernubare krag inhou.

Energie maak ʼn land onafhanklik. Met genoeg energie kan water uit die see gesuiwer word of uit die lug gekondenseer word. Dit kan kos produseer en waarde tot hulpbronne toevoeg. Japan leer ons ystererts is nie nodig om karre te maak nie.

Waar sou Suid-Afrika se ekonomie vandag sonder Eskom wees? So ook Sasol wat eens as ’n reuse las vir die belastingbetaler beskryf is en vandag baie geld vir die land verdien. Indien Sasol genoeg petrol kon voorsien, sou die wisselkoers nie so ʼn groot invloed gehad het nie.

Indien die regering sy huis in orde kan kry, kan geen imperiale mag, of dit wat uit die Ooste of uit die Weste kom, die land se elektrisiteitsvoorsiening aantas nie. Sou elektriese vervoer ’n alledaagse werklikheid word, kan ru-oliepryse nie die ekonomie ontwrig nie. Berging van elektrisiteit is die berg tussen die huidige werklikheid en elektriese vervoer – en daardie berg word tans vinnig gelyk.

Die grootste probleem met hernubare energie is die oneweredige opwekking daarvan. Die minister van openbare werke het met haar aankondiging van sonpanele op staatsgeboue gesê wat die VF Plus lank reeds sê: Die oplossing vir Suid-Afrika se energieprobleme lê (ten minste gedeeltelik) op ons dakke.

Dit is nie nodig om spesiale sonplase op te rig nie. Dit is ook nie nodig dat buitelandse maatskappye daarin belê en ons eie sonskyn aan ons terugverkoop nie. Elke dak, of dit ’n huis, winkel, skool, kerk, fabriek of plaasskuur is, is ’n sonplaas in die kleine. Die belegging in opwekkingsvermoë hoef nie deur die staat gemaak te word nie, burgers sal dit self doen. Die krag wat nodig is word gebruik, en die res word in die netwerk ingevoer.

Indien 40 000 hektaar met sonpanele bedek is, wek dit meer krag op as al Eskom se kragsentrales saam – wanneer die son skyn natuurlik. Net een hektaar onder sonpanele kan Karooboere verskans teen die soort vernietigende droogte wat hulle tans beleef.

Vandat die son oor Durban opkom, tot dit oor Alexanderbaai sak, skyn dit oor ’n groot deel van Gauteng se piekverbruik. En wanneer die son sak, begin die wind te waai. Dis nie dat hernubare krag aan alle behoeftes sal voldoen nie, maar dit kan die mengsel van kragbronne aansienlik verander.

Net soos wat energie ’n land se selfstandigheid van ander lande bevestig, so bevestig dit gemeenskappe se selfstandigheid teenoor die nasionale staat. Die staat kan nie meer dreig om ’n gemeenskap of streek se krag af te sny nie, want die gemeenskap wek dit self op.

’n Staat wat nasionale eenheid wil behou, sal in die nabye toekoms moet presteer om dit te doen... want hy gaan dit nie meer kan afdwing nie.


Kontaknommer: 074 166 5540

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!