Opvoeding en onderwys: Vloedgolf van vyandige transformasie kan net deur gekoördineerde optrede gestuit word

2021-10-19
Dr. Wynand Boshoff

Terwyl die veldtog vir die plaaslike regeringsverkiesing aan die gang is, bou die staatsgedrewe projek vir transformasie in alle vlakke van onderwys momentum op.

Dit is selfs meer kommerwekkend dat beheerliggame van skole en universiteite aktief daaraan deelneem. In dié verband kan die uitslag van die plaaslike verkiesing 'n belangrike invloed uitoefen.

In basiese onderwys vind die transformasie op die mikro- sowel as makrovlak plaas. Die onlangse besluit van die Hoërskool DF Malan om na die DF Akademie hernoem te word, is maar die mees onlangse in 'n lys van vrywillige afstanddoening van die verlede. In die skrywe daaroor, vermeld die skoolbeheerliggaam dat dit die volgende stap is om die skool van die eertydse politikus te "ontkoppel".

Op makrovlak is die departement in die finale fase daarvan om 'n "nuwe, inklusiewe en gedekolonialiseerde" leerplan vir geskiedenis by skole in te voer. Die huidige leerplan, veral soos dit in handboeke gestalte vind, is reeds anti-Westers in die algemene geskiedenis; en militant anti-wit en anti-Afrikaner in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Indien die departement dit steeds te "Westers georiënteerd” vind, kan die nuwe poging niks anders as naakte propaganda wees nie.

Dit is natuurlik die omgewing wat op makrovlak geskep word, wat maak dat 'n skoolbeheerliggaam, soos dié van die Hoërskool DF Malan, nie langer kan wag om van sy historiese wortels te "ontkoppel" nie.

Op hoër onderwysvlak volg die departement reeds sedert 2003 aktief 'n beleid om universiteite te verengels. Die feit dat ander inheemse tale nie tot universiteitsvlak ontwikkel is nie, word as voorwendsel gebruik om Afrikaans af te gradeer. Weereens was dit nie vir die departement nodig om aksie te neem nie. Universiteitsowerhede het, moontlik om departementele guns te wen, self vir die ondergang vir Afrikaans as akademiese taal gesorg.

Een rede waarom die departemente sowel as onderriginstellings so eensydig kon optree, is die persepsie dat Afrikaners en Afrikaanssprekendes die optrede steun. Dit hou direkte verband met die beleid van partye wat die meerderheid van hierdie gemeenskappe se steun in verkiesings sedert 1994 ontvang het.

Die VF Plus se goeie vertoning in die 2019-algemene verkiesing het onder meer Afrikaans terug op die openbare agenda geplaas. Hoewel die party deurentyd weerstand teen departementele neigings gebied het, is geoordeel dat 'n meerderheid Afrikanerstemme op partye wat dit ondersteun het, uitgebring is. Ná die uitslag moes rolspelers oor die volle spektrum weer van die behoefte om Afrikaans te handhaaf, sowel as om histories gewortel te bly, kennis neem.

Die munisipale verkiesing van 2021 is nie net belangrik vir die wyse waarop munisipale dienste gelewer gaan word nie, maar ook vir die lewering van onderwysdienste in Afrikaans.

Diegene vir wie Afrikaans belangrik is, moet deeglik kennis neem van die breër raamwerk waarbinne hulle beweeg. Langtermynbeplanning vir Afrikaans as universiteitstaal moet gedoen word, terwyl agteruitgang van die taal aan openbare universiteite gestuit word.

Die VF Plus doen intussen alles moontlik om die omgewing vir instansies soos Akademia te verbeter. So is onverbiddelik standpunt ingeneem teen die siening van die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, dat private instellings van hoër onderrig onder dieselfde taalbeleid as openbare universiteite moet val.

Verder moet private instellings wat aan die vereistes voldoen, toegelaat word om universiteite genoem te word. Hulle moet ook die titel van professor aan akademici wat dit verdien, kan toeken. Die VF Plus het in die parlement vir al hierdie regte opgestaan en sal daarmee voortgaan.

 

DrWynandBoshoffAfrikaansOnderwysGeskiedenis

Laai dokumente af


VF Plus-verkiesingsveldtog VF Plus-leier besoek Gauteng.png

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!