Ontwikkel ‘n Nguni- en ‘n Sotho-taal vir akademiese gebruik en behou Afrikaans

2020-07-22
Dr. Wynand Boshoff

(Debat in parlement: Aanpassingsbegroting vir Hoër onderwys en opleiding)

Die departement van hoër onderwys en opleiding ontvang die derde grootste parlementêre toelaag. Met R97,4 miljard, is dit slegs maatskaplike ontwikkeling en polisie wat dit oortref. As die verpligte, direkte vaardigheidsheffing wat van werkgewers verhaal word ingereken word, skuif hoër onderwys in die tweede plek in.

Die beursskema vir arm mense en die werkersklas, NSFAS, se eie begroting van byna R35 miljard sou die agtste uit 41 gewees het, indien dit 'n departement op sy eie was.

Met die huidige noodbegroting, waarna amptelik as die aanpassingsbegroting verwys word, word R1,7 miljard, oftewel 1,8% van die parlementêre toelaag besnoei, terwyl R8 miljard, oftewel 41% van die direkte heffings, verlore is.

Die eerste is 'n aanduiding van die voorkeur wat hoër onderwys en opleiding geniet, terwyl die tweede 'n aanduiding is van die ekonomiese skade van die huidige grendelstaat.

Die VF Plus beskou hierdie departement ook as deurslaggewend vir Suid-Afrika. Nie alleen die kennis en vaardighede wat gevorm word is belangrik nie, maar ook die kulturele aanpassing wat in die huidige tydsgewrig gemaak moet word.

Die vermoë van Suid-Afrika om sy plek in die internasionale gemeenskap in te neem, hang van die vermoë af om ons Afrika-identiteit met die heersende globale stelsel op politieke -, ekonomiese -, wetenskaplike -, onderwys- en selfs ontspanningsgebied, wat 'n Westerse stelsel is, saam te snoer.

Wanneer ʼn mens buite die heersende globale stelsel gebore word, is die keuse om dit eenvoudig te ignoreer, die eie identiteit prys te gee en die globale te probeer aanneem, die onreg te betreur, of die eie agtergrond met die globale stelsel te verenig - sonder verlies van die een, maar met genoegsame kennis van die ander.

Indien universiteite nie hul deurslaggewende rol in hierdie proses speel nie, gaan Suid-Afrikaners steeds verder agter raak - ongeag of hulle daarmee tevrede is of dit betreur. Deel daarvan behoort te wees om ten minste een Nguni- en een Sotho-taal tot akademiese gebruikstaal te ontwikkel; en om Afrikaans as taal wat reeds die proses kon deurvoer, te waardeer.

Terwyl dit behoort te gebeur, is daar wanfunksionele universiteite en kolleges en Afrikaans word bloot as 'n hindernis tot toegang gebrandmerk.

Die probleem met die begroting vir hoër onderwys en opleiding is nie besteding nie, maar uitvoering.

Navrae: 074 166 554

DrWynandBoshoffAfrikaansHoërOnderwys#Covid19SouthAfricaNguniSotho

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!