Onteiening sonder vergoeding ‘n glybaan na die vernietiging van Suid-Afrika

2019-07-25
Dr Pieter Groenewald

Die ANC se mosie om ʼn parlementêre ad hoc-komitee saam te stel om finale voorbereidings te tref vir wetgewing om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, moet na regte lui; “ʼn Mosie oor hoe om Suid-Afrika se ekonomie en sy toekoms te vernietig”.

Dit sal die land op dieselfde glybaan na vernietiging plaas as wat met Zimbabwe gebeur het.

Wat die kwessie van grond aanbetref, is daar wel fundamentele verskille tussen die ANC en die EFF. Die ANC probeer mense onder die indruk bring dat hulle onteiening sonder vergoeding wil toepas om mense toegang tot grond te gee. Ook dat die proses met streng voorwaardes gepaard sal gaan.

Die EFF is eerliker hieroor. Vir hom is dit ʼn ideologiese aangeleentheid en die EFF sê reguit hy wil al die grond hê deur dit te nasionaliseer.

Die uiteinde gaan nogtans dieselfde wees. Die uitsprake van die ANC en die EFF oor die kwessie herinner daarom aan die Afrikaanse gesegde oor twee katte wat raas en ʼn mens weet nie of hulle vry of baklei nie.

Die VF Plus wil dit herhaal dat die proses om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, wesenlik foutief is. Die VF Plus sal daarom seker maak dat die regte regsprosesse gevolg word indien die ANC wel die Grondwetlik deur wettige prosesse wil verander.

Daar is steeds mense wat dink slegs landbougrond is ter sprake by onteiening sonder vergoeding. Artikel 25 van die Grondwet maak dit duidelik dat eiendom nie beperk is tot grond nie. Dit sluit roerende en intellektuele eiendom in.

Die mense van Suid-Afrika moet verstaan dat onteiening sonder vergoeding die toekoms van Suid-Afrika in die gedrang sal bring en hulle sal hul misnoeë daaroor duidelik te kenne moet gee.

Die VF Plus verwerp dit en sal alles in sy vermoë doen om te verhinder dat die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!