Onrus: Regering was aan die slaap

2021-07-16
Dr Pieter Groenewald

Wat president Cyril Ramaphosa vanaand gesê het oor die onluste wat Suid-Afrika tot op die rand van anargie gebring het, moes hy Maandag reeds gesê het. Die president praat ook van soldate wat nog in sekere gebiede ontplooi moet word. Ook dit moes ’n week gelede reeds gedoen gewees het.

Dieselfde fout wat egter ’n week gelede begaan is, word nou herhaal deurdat diegene wat volgens die president die onrus georkestreer en aangehits het, steeds nie agter tralies is nie.

Volgens die president weet die veiligheidsmagte wie die mense is. Hulle moet summier in hegtenis geneem word en behoort aangekla te word vir sedisie en hoogverraad. Dit is onaanvaarbaar dat hulle nog tyd gegun word om die onrus verder aan te stook.

Maandagaand was die president nog totaal in die duister oor presies wat die situasie behels en het verkies om tot ’n groot mate die skuld te pak op armoede en ongelykheid.

Dit dien as bewys dat die land se intelligensiemagte aan die slaap gevang is. Die skuld is toe nog hoofsaaklik op kriminaliteit gepak terwyl die president nou sê daar was wel persone en magte betrokke wat die land se demokratiese bestel wil vernietig.

Die president erken dat nie die polisie of die intelligensiedienste gereed was vir hierdie krisis nie. Die VF Plus verwag van die president om teen die betrokke ministers op te tree.

Die VF Plus het vroeër in die week tydens ’n gesprek tussen politieke leiers en die president die mening uitgespreek dat ’n noodtoestand nie nodig is nie en dit is goed om te hoor dat die president hiermee saamstem.

Beter en strenger polisiëring en ferm optrede deur die weermag behoort voldoende te wees om die onrussituasie te ontlont. Die publiek het reeds landwyd gewys hoe vinnig en doeltreffend daar wel saamgestaan en voorsorg getref kan word om hul veiligheid te beskerm.

Dat die land voor ’n krisis staan, is onbetwisbaar. Die tyd het nou aangebreek vir die regering om vir eens die regte ding te doen en ferm en genadeloos op te tree teen diegene wat die land in hierdie situasie gedompel het.

Die VF Plus verwelkom dit dat die president die belangrike rol wat gemeenskapspolisiëringsforums ten tyde hierdie anargie speel, erken. Daar moet ook seker gemaak word dat daar behoorlike koördinering is tussen die polisie en burgerlike veiligheidstrukture soos plaas- en buurtwagte.

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosaanargie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!