Onder ʼn ANC-regering is daar nie lig aan die einde van die stygende lewensonkoste-tonnel (Debat in parlement: Oplossings om stygende lewensonkoste aan te spreek)

2022-09-22
Tammy Breedt

Die oplossing vir die stygende lewenskoste is eenvoudig:

Op die kort termyn moet die ANC van sy striemende beleidsrigtings afsien en werklik Suid-Afrikaners se belange eerste stel.

Op die lang termyn moet van die ANC in geheel ontslae geraak word en vervang word met ʼn regering wat Suid-Afrikaners eerste stel.

Daar is verskeie faktore wat die lewenskoste van Suid-Afrikaners beïnvloed.

Eksterne faktore, soos die droogte in Europa en Sjina en die Rusland/Oekraïne-krisis, kan nie beheer word nie. Daar kan wel gepoog word om Suid-Afrika te omskep in ʼn netto uitvoerder en nie ʼn netto invoerder van produkte nie sodat die land nie so afhanklik is van ander lande en hul gepaardgaande dramas nie.

Suid-Afrika sal net ʼn netto uitvoerder raak as die ANC-regering besef dat die rede waarom landbou die naasgrootste groeiende bedryf is, die kommersiële boere is en hulle dienooreenkomstig ondersteun.

Met die interne faktore wat voor die hand liggend is, is die oplossings net so voor die hand liggend – dis Ekonomie 101.

Die drie grootste bydraende interne faktore is die voortslepende beurtkragkrisis, astronomiese brandstofpryse en die hoë werkloosheidskoers.

Die enigste wyse om inflasie te versag, is deur ekonomiese groei. Daarvoor is werkskepping van kardinale belang.

Volgens Statistieke SA is die jeugwerkloosheidkoers in Suid-Afrika 66,5%.

Selfs die president sê in sy weeklikse blog: "Geen samelewing kan verwag om te groei of te floreer wanneer die oorgrote meerderheid van sy jong mense sonder werk is nie."

Werkskepping kan net verhoog indien die regering ʼn klimaat skep wat gunstig is vir entrepreneurs. Dit is tans nie die geval nie.

Taxi-tariewe beslaan tans meer as ʼn derde van minimumloonwerkers se salaris en die pryse van baie produkte word opgestoot weens vervoerkoste.

Vergeleke met Augustus verlede jaar het sonneblomolie, insluitend kanola-olie, met 55% gestyg, die hoogste styging van produkte jaar tot jaar.

Die tweede hoogste jaar tot jaar-prysstyging vir ʼn voedselproduk is vir beet wat 40,5% duurder is.

Koekmeel het onder voedselprodukte die derde hoogste styging getoon (30,8%) gevolg deur komkommers en geblikte bone wat met 23% gestyg het.

Die onnodige brandstofheffings, wat nie aangewend word vir die doel waarvoor dit daargestel is nie, moet afgeskaf word om brandstof meer bekostigbaar te maak en sodoende vervoerkoste te verlaag.

Die kragkrisis moet daadwerklik aangespreek word. In stede daarvan dat Eskom inwoners en maatskappye wil beboet wat wil help met alternatiewe kragbronne, moet hulle beloon word.

Dit is egter onwaarskynlik dat Suid-Afrikaners onder ʼn ANC-regering, met sy uitgediende beleidsrigtings, binnekort enige lig aan die einde van die stygende lewensonkoste-tonnel sal sien.

Die enigste oplossing is om van die ANC ontslae te raak. Suid-Afrika en sy inwoners verdien beter as die ANC.

 

TammyBreedtANCStygendeLewenskoste

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!