Onbekostigbare minimumloon onverantwoordelik te midde stygende inflasie, toename in werkloosheid en verswakte ekonomie

2016-11-24
Wouter Wessels

Die aanbeveling van ‘n nasionale minimumloon van R3500 per maand of R20 per uur deur die Nasionale Minimum Loonpaneel is nie die oplossing vir armoede en werkloosheid nie, maar gaan eerder die teenoorgestelde bewerkstellig. Suid-Afrika se ekonomie ervaar tans die stadigste groeikoers sedert 2009 se resessie. Volgens Wouter Wessels, VF Plus-LPW en woordvoerder, is dit juis streng en onuitvoerbare arbeidswetgewing en onbekostigbare minimumloonvereistes wat die ekonomie striem en werksgeleenthede beperk.

Statistiek Suid-Afrika het vroeër bekend gemaak dat die nasionale gemiddelde werkloosheidskoers na 27,1 % gestyg het, met ‘n styging na 38,2% in werkloosheid onder jeug tot en met die ouderdom van 34 jaar. Voorts het Statistiek Suid-Afrika ook gister bekendgemaak dat die gemiddelde inflasiekoers met 0,3% na 6,4% gedurende Oktober gestyg het. Voedselpryse het met 12% sedert ’n jaar gelede gestyg.

Volgens Wessels gaan werknemers gebuk onder geweldige hoë lewenskostes, maar is werknemers nie die enigstes wat ly onder ‘n verhoging in die verbruikersprysindeks nie. Werkgewers – veral klein sakeondernemings en entrepreneurs – voer ook ‘n daaglikse stryd om bedryfskostes te dek en winsgewend te bly om sodoende werkskepping te bevorder. Hy is oortuig dat ‘n verhoging van die minimum loon na R3500 deur die bank vir alle sektore onvermydelik tot ‘n geweldige styging in werkloosheid sal lei. Werkgewers sal net eenvoudig nie meer hul totale arbeidsmag kan bekostig nie en sal noodgedwonge afleggings moet oorweeg.

Die VF Plus is gekant teen die uitbuiting van werkers ten einde buitensporige hoë winsgrense te bewerkstellig, maar in die huidige ekonomiese klimaat moet daar baie meer gedoen word om ‘n gunstige omgewing vir sakeondernemings te skep om sodoende die staatskas se inkomstestroom te vergroot en die broodnodige werksgeleenthede vir miljoene werklose Suid-Afrikaners te skep.

 

Kontaknommers: 072 997 8315 / 051 407 1104 / 081 674 6670

 

 

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!