Omvattende seksualiteitsonderrig: Minister Motshekga skuld die land ‘n openbare verklaring

2020-01-28
Dr. Wynand Boshoff

Luidens mediaberigte het die minister vir basiese onderwys, me. Angie Motshekga, toegegee dat skole self kan besluit óf, en hoe, hulle die voorgeskrewe lesplanne vir omvattende seksualiteitsonderrig gaan aanbied. Dit het gevolg na ‘n gesprek met onderwysvakbonde.

Die VF Plus verwelkom hierdie stap, omdat dit uitvoering gee aan die party se standpunt dat onderwysers professionele persone is en die finale bevoegdheid om kurrikulum te vorm, by hulle lê.

Die VF Plus het ook daarop gewys dat onderwys 'n kulturele uitdrukking is en onder beheer van kultuurgroepe self moet staan en nie onder die sentrale staat soos tans nie.

Dit is nie toevallig dat die toegewing teenoor vakbonde gemaak is nie. Verskeie vakbonde het hulle sterk teen dié onderrig uitgespreek en hulle beskik oor die vermoë om die minister in 'n reeds problematiese omgewing met burgerlike ongehoorsaamheid te konfronteer.

Hierdie uitspraak van minister Motshekga is in sterk teenstelling met haar houding in die parlement verlede jaar. Toe het sy 'n karikatuur van die besware teen hierdie lesplanne gemaak en dit arrogant van die hand gewys.

Hierdie verloop van sake behoort vir die ANC oor die algemeen 'n vingerwysing te wees. Dit is wel moontlik om hulle parlementêre meerderheid te gebruik om alle teenstand te stoomroller, maar die werklikheid buite die parlement is meer kompleks. Terselfdertyd kan die burgerlike samelewing daaruit moed skep dat konkrete werklikhede selfs deur 'n arrogante regering soos die ANC in ag geneem moet word.

Wat wel nog van die minister verwag kan word, is om die teenstelling tussen haar uitsprake in die parlement en teenoor vakbonde met 'n openbare verklaring uit die weg te ruim.


Kontaknommer: 074 166 5540

DrWynandBoshoffBasieseOnderwysSeksonderrig

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!