Omstrede Merafong-burgemeester uiteindelik uit haar pos

2021-04-01
Ben van der Berg

Daar is gister daarin geslaag om met ʼn VF Plus-gesteunde mosie van wantroue in die omstrede burgemeester van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela), Maphefo Mogale-Letsie, ontslae te raak tydens ʼn raadsvergadering van dié munisipaliteit.

Mogale-Letsie kon nie die aanslag teen haar afweer nie en is genoodsaak om haar pos te verlaat.

Verskeie mosies van wantroue is deur die jare teen haar gebring, maar gister het haar eie party, die ANC, die rug op haar gedraai.

Sy het geweier om uit haar pos te bedank selfs nadat die Gautengse wetgewer verlede jaar voorgestel het sy moet bedank.

Mogale-Letsie word betrek vir haar aandeel in die R50 miljoen-belegging wat die munisipaliteit gemaak het in VBS Mutualbank.

Tydens die raadsvergadering is Mogale-Letsie se hantering van die nasionale armoede-verligtingsprojek / uitgebreide openbarewerke-program (EPWR)-stakings veroordeel waar sy onwederregtelik 45 tydelike werkers se kontrakte hernu het. Die nasionale inisiatief vereis dat tydelike werkers se kontrakte net vir een jaar geldig is.

Swak dienslewering en die ongunstige finansiële situasie waarin die Merafong-munisipaliteit verkeer, was ʼn verdere verleentheid vir Mogale-Letsie. Die munisipaliteit sukkel om diensverskaffers te betaal en het gereelde kragonderbrekings.

Die waarnemende munisipale bestuurder, Lerato Peu, is ook uit sy pos verwyder en word vervang deur Siyamthemba Mdletshe.

Mogomotsi Sello, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, is as die nuwe burgemeester verkies.

Die VF Plus is verlig dat ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester uiteindelik geslaag het en sal die nuut verkose burgemeester 'n regverdige kans gee om die probleme rondom diensverskaffing op te los.

Die party sal nie sy waghondfunksie laat vaar nie en sal die raad verantwoordelik hou vir enige ongerymdhede, korrupsie en wanadministrasie.


Navrae: 082 671 2302

 

BenVanDerBergBurgemeesterMosieVanWantroueMerafongMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!