OB bevestig VF Plus se klag dat Gautengse e-regering se blitstender vir IT-sekuriteit onreëlmatig toegeken is

2021-06-08
Adv Anton Alberts

Die openbare beskermer (OB) het bevestig dat die blitstender en kontrak vir IT-sekuriteitsdienste wat in minder as 24 uur aan 'n maatskappy met ANC-bande toegeken is, wel onreëlmatig is.

Die VF Plus het op 6 April 2020 'n klag by die OB ingedien om die blitstender en kontrak vir IT-sekuriteitsdienste wat deur die Gauteng-regering aan 'n diensverskaffer toegeken is, te ondersoek.

Verskeie benadeelde diensverskaffers het destyds klagte hieroor by die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams, ingedien.

'n Fluitjieblaser het ook 'n brief hieroor aan president Cyril Ramaphosa geskryf.

Daar is egter geen vordering gemaak met die saak nie totdat die OB die VF Plus-klag ondersoek het en die bevinding gemaak het dat die blitskontrak onreëlmatig toegeken is aan In2IT Technologies deur die Gautengse departement vir e-regering.

Die VF Plus gaan die premier van Gauteng, David Makhura, versoek om hierdie kontrak tersyde te stel in lyn met die OB se bevinding en om stappe te doen om te verhinder dat dit weer gebeur. Die VF Plus sal ook die Valke nader om te ondersoek of enige korrupsie plaasgevind het.

Die media het in April 2020 berig dat die tender onder vreemde omstandighede toegeken is. Dit het die VF Plus genoop om die OB hieroor te nader.

Eerstens blyk dit dat diensverskaffers tydens die uitnodiging om te tender net twee werksure gekry het om 'n tender in te dien. Die tender-uitnodiging is per e-pos om 17:17 op 25 Maart 2020 uitgestuur en daar is vereis dat die tender ingedien moet word teen 10:00 op 26 Maart 2020.

Die diensverskaffer wat die tender gewen het, In2IT Technologies, het luidens berigte vinnig gereageer met 'n 100 bladsy tenderdokument. Die tender is blykbaar spoedig daarna toegeken aan In2IT Technologies. Die hele proses het net 24 uur geduur.

Die huidige diensverskaffer wat nou vervang word, GSOC Security Services, argumenteer dat dit onmoontlik is om in so 'n kort tydperk so 'n omvattende tenderdokument op te stel en gereed te hê. Volgens 'n destydse City Press-berig is daar amptenare in die departement wat meen dat die tender geskep is vir 'n spesifieke diensverskaffer in gedagte.

Alhoewel dit blyk dat daar 'n botsing van belange bestaan tussen In2IT en lede van die Gautengse regering, het die OB egter bevind dat daar geen bewyse gevind kon vir enige onreëlmatighede in daardie verband nie.

Volgens 'n destydse City Press-berig is In2IT Technologies 'n borg vir die sokkerspan Moroka Swallows, waarin die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, belange het.

Verder is berig dat daar verskeie pogings bestaan het om In2IT Technologies by ander regeringsinstansies betrokke te kry, maar sonder sukses.

Dit het die indruk by die VF Plus versterk dat die Gautengse regering hierdie tender spesifiek vir die diensverskaffer geskep en toegeken het.

Desnieteenstaande die bevinding dat Lesufi nie enige direkte bande met In2IT Technologies het nie, sal die VF Plus sy eie ondersoek verder voer rakende die botsing van belange tussen die maatskappy en die Gautengse regering.

Hierdie bevinding van die OB is opnuut 'n bewys dat die ANC nie met openbare fondse vertrou kan word nie.

Dit is ook bemoedigend om te sien dat streekskantore van die OB wel nog suksesvol ondersoeke teen die ANC-regering kan doen nieteenstaande die probleme wat die OB se hoof in persoon ervaar.



GautengAdvAntonAlbertsopenbarebeskermerE-regering

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!