Nuwe VF Plus-leier in Vrystaat verkies

2013-10-21
Wouter Wessels

Die VF Plus se Vrystaat provinsiale kongres het Saterdag met hartseer afskeid geneem van mnr. Abrie Oosthuizen.  Oosthuizen was sedert 1994 die leier van die VF Plus in die Vrystaat en het gister amptelik uit aktiewe politiek getree.

Mnr. Jan van Niekerk is eenparig as die nuwe provinsiale leier verkies. Van Niekerk wat boer in die Noord-Oos Vrystaat was die provinsiale ondervoorsitter van die party, hy was voorheen ‘n lid van die Vrystaat Wetgewer en is ‘n voormalige nasionale jeugleier van die VF Plus.  Van Niekerk is ook die voorsitter van die Verkykerskop-boerevereniging en die ondervoorsitter van die Harrismith distriksboere-unie.

Van Niekerk het tydens sy aanvaardingstoespraak mnr. Oosthuizen bedank vir sy voortreflike leierskap oor die afgelope 19 jaar en hom geloof vir die feit dat hy die Vrystaat as een van die mees suksesvolle provinsies van die party gevestig het. Hy het ook gesê dat die Vrystaatse partyraad vir mnr. Oosthuizen en sy gade, mev. Karin Oosthuizen ‘n rustige en vreugdevolle aftrede gun en toewens.

Die party het ‘n sterk steunbasis in die provinsie en Van Niekerk het sy vertroue uitgespreek dat die VF Plus in volgende jaar se algemene verkiesing gaan groei. Hy het daarop gewys dat die daaglikse aansluit van nuwe lede by die party hierop dui en dat die VF Plus homself daadwerklik vir ‘n beter toekoms beywer.

Mnr. Connie Pelser is herverkies as een van die ondervoorsitters en mnr. Wouter Wessels is verkies as die ander. Wessels het verlede maand mnr. Oosthuizen as die VF Plus se lid in die Vrystaatse Wetgewer opgevolg.  

Rdl. Phillip van der Merwe, rdl. Johan Powell, rdl. Koos Pienaar, rdl. Susan Taljaard, rdl. Vallerie Maas, rdl. Theo du Toit, mnr. Japie van der Bergh, me. Tronel Oosthuizen, prof. Johan Venter, me. Suné Lötter, me. Tammy Breedt en mnr. Janneman Kotze is tot die Vrystaatse dagbestuur verkies.

Van Niekerk het sy vertroue in hierdie span uitgespreek en gesê dat dit beslis moontlik gaan wees om groot sukses te behaal.

Me. Tammy Breedt is vandeesmaand tydens die Vrystaatse jeugkongres as die provinsiale jeugleier verkies en mnr. Janneman Kotze as die onderleier.

Toekennings vir onbaatsugtige diens en prestasie is aan lede en takke tydens die kongres uitgedeel. Die Hennenman-tak het die trofee vir uitsonderlike prestasie ontvang en die Wesselsbron-jeugtak het die beker vir die beste jeugtak ontvang.

Die Vrystaatse partyraad het ook tydens gister se vergadering strategiese beplanning vir die 2014-verkiesing afgehandel en is slaggereed vir die opwindende verkiesing wat voorlê.

WOUTER WESSELS, LPW

082 674 6670

JAN VAN NIEKERK

083 743 2042


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!