Nuwe Mpumalanga-polisiekommissaris het moeilike pad om polisiediens reg te ruk

2021-07-06
Werner Weber

Die VF Plus verwelkom die aanstelling van lt.genl. Semakaleng Manamela as nuwe polisiekommissaris vir Mpumalanga, veral omdat dit blyk sy 'n vlekkelose reputasie as hardwerkende polisielid het.

Lt.genl. Manamela het egter 'n lang en moeilike pad wat vir haar voorlê om die vervalle polisiediens in dié provinsie reg te ruk.

Die tekort aan polisielede, -voertuie en ander hulpbronne moet daadwerklik aandag geniet om te verseker dat die polisie sy pligte effektief kan uitvoer.

Dit is onaanvaarbaar dat eenhede soos dié vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe slegs drie voertuie tot hul beskikking het om die hele provinsie se misdaad in dié verband te ondersoek.

Polisievoertuie word eerder gebruik om verhoorafwagtende gevangenes na die howe en terug te vervoer.

Landelike veiligheid in Mpumalanga is vir die VF Plus ononderhandelbaar en die veiligheid van boere en landelike gemeenskappe moet ‘n prioriteit wees.

Die party het daarom ook die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, gevra om aan te dui of sy departement behoorlike opnames gemaak het oor ‘n moontlike tekort aan voertuie, vuurwapens, uniforms en ander logistieke steun by polisiekantore in Mpumalanga en wat is die tydraamwerke ten einde aandag aan sodanige aangeleenthede te skenk.

Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die nuwe polisiekommissaris om die polisie se integriteit en funksionaliteit in Mpumalanga te herstel deur ontslae te raak van korrupte lede. Aanstellings en bevordering moet ook op grond van kundigheid en ondervinding geskied.



PolisieWernerWeberLandelikeVeiligheidMpumalangaPolisieKommissaris

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!