Nuwe hoof van NVG het ‘n reuse taak op hande

2018-12-04
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus wens adv. Shamila Batohi, nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), geluk toe met haar aanstelling, maar wil haar terselfdertyd daarop wys dat sy ʼn reuse taak op hande het om die geloofwaardigheid van die kantoor te herstel.

Die VF Plus neem kennis daarvan dat sy in haar onderhoud gesê het dit is belangrik dat die publiek weer vertroue in die NVG kry. Om dit te vermag, sal sy in die eerste plek ontslae moet raak van die korrupte amptenare in die kantoor. Daar is vrot appels wat talle hardwerkende en goeie vervolgers tans ʼn slegte naam gee.

Ten tweede sal sy aan die publiek bewys moet lewer dat sy nie gemanipuleer sal word deur die regering van die dag nie en dat sy sonder vrees of vooroordeel besluite sal neem.

Die realiteit is egter dat daar oor jare omvangryke korrupsie en manipulering in die NVG was en dit sal nie oornag verdwyn nie.

Die feit dat president Cyril Ramaphosa toegelaat het dat die onderhoudvoering van die kandidate ʼn openbare proses was, kan die publiek reeds die gevoel van deursigtigheid en daarom vertroue met haar aanstelling en in die kantoor van die NVG gee.

Adv. Batohi is gekwalifiseerd vir die pos. Sy is in die reg geskool as staatsaanklaer in KwaZulu-Natal en was tot op hede raadgewer vir die Internasionale Strafhof.

Die VF Plus hoop dat sy die belange van die mense van Suid-Afrika deurgaans voorop sal stel en die party sal nie huiwer om haar tereg te wys indien sy dit nie doen nie.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!