Noordwes-munisipaliteite steeds vervalle ten spyte van koste van aangestelde administrateurs

2021-03-24
Fanie du Toit

Munisipaliteite in Noordwes verval steeds met rasse skrede ten spyte van miljoene rande wat deur die provinsiale regering aan administrateurs bestee word om munisipaliteite reg te ruk.

Die VF Plus het die kwessie geopper op ‘n vergadering van die parlementêre ad hoc-komitee wat toesig hou oor die nasionale regering se ingryping in Noordwes.

Gemeenskapslede en belangegroepe in Noordwes was veronderstel om ook insette te lewer by die komitee, maar uitnodigings is skynbaar selektief uitgestuur.

Die ANC-regering in die provinsie het sedert 2018 begin met die aanstelling van administrateurs by veertien munisipaliteite regoor die provinsie. Hierdie ingrypings het tot dusver weinig, indien enige, resultate opgelewer.

Die VF Plus het reeds by herhaling uitgewys dat hierdie aanstellings neerkom op vrugtelose uitgawes en skynbaar net nuwe kanale skep vir die stroping van munisipale hulpbronne.

Die Noordwes-premier, Job Mokgoro, het ook al by herhaling erken dat die aanstelling van administrateurs nie tot dusver vrugte afgewerp het nie.

Gemeenskappe regoor die provinsie ly steeds onder die impak van gebrekkige dienslewering, die toenemende verval van infrastruktuur, korrupsie en wanadministrasie.

Die provinsiale regering identifiseer self in amptelike voorleggings die omvangryke korrupsie, wanadministrasie, die gebrek aan vaardige personeel in sleutelposte, sowel as die swak dissipline onder raadslede en munisipale personeel as kernoorsake van die verval van munisipaliteite.

Ten spyte hiervan het die provinsiale regering met nog geen volhoubare oplossings vorendag gekom nie.

Die persone verantwoordelik vir die verval van dorpe en infrastruktuur word ook nie daadwerklik aanspreeklik gehou nie.

Wetgewing wat spesifiek daargestel is om korrupte politici en amptenare te vervolg, sowel as kontrole-meganismes wat veronderstel is om korrupsie en wanbestuur te voorkom, word selde en selektief toegepas.

Die politieke wil bestaan eenvoudig nie en dit is duidelik dat gevestigde belange voor die welstand van Noordwes se inwoners gestel word.

Die provinsiale regering en munisipaliteite regoor die provinsie word verder verlam deur interne ANC-faksiegevegte in ‘n klaarblyklike stryd om beheer van munisipale hulpbronne vir eie gewin.

Die ANC se volharding met sy beleid van kaderontplooiing waar kritieke poste deur ANC-gekonnekteerde individue gevul word in stede deur gekwalifiseerde, professionele munisipale amptenare, vererger die situasie.

Die VF Plus het al by herhaling uitgewys dat die suiwering van munisipale administrasies van politieke aanstellings ‘n voorvereiste is vir die suksesvolle herstel van dienslewering op alle regeringsvlakke.

Dit is ‘n skande dat die inwoners van Noordwes moet ly onder n ANC-regering wat duidelik net die belange van ‘n klein ANC-elite vooropstel en die sigbare verval van munisipaliteite ignoreer.

Kiesers moet kennis neem en in die komende verkiesings verseker dat die suiweringsproses begin deur die ANC uit die regering te verwyder.



NoordWesMunisipaliteiteFanieDuToitAdministrasie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!