Noodsaaklike sanitering van staatsgeboue in Noordwes nog ‘n stropingsgeleentheid vir tenderpreneurs

2020-07-31
De Wet Nel

Die VF Plus is verstom oor Noordwes se LUR van finansies, me. Motlalepula Rosho, se uitlating dat die provinsiale regering voortgaan met die aanstelling van private maatskappye om die sanitasie van staatsgeboue en skole te behartig tydens die Covid-19-pandemie.

Dit kom nadat die VF Plus voorgestel en daarop aangedring het dat die provinsie se huidige werknemers, wat juis aangestel is om professionele sanitasie en skoonmaakdienste te verrig, hierdie take moet uitvoer.

Hierdie werknemers verrig immers reeds jare hierdie dienste as deel van hul normale pligte en is reeds goed bekend met die uitleg en gesondheidsuitdagings van hul werkplekke.

Miljoene rande is ook reeds bestee aan sanitasiemiddels en beskermende drag om die werkers in staat te stel om hierdie take effektief te verrig, asook om hulle teen die virus te beskerm.

Die LUR se aandrang op die gebruik van private instansies laat dit blyk dat sy geen vertroue het in hierdie werknemers se bekwaamheid, professionaliteit of werksetiek om hierdie basiese diens te lewer nie.

Die departementshoof van die tesourie, Ndlela Kunene, gaan selfs verder deur op 'n vraag van die VF Plus te antwoord dat hierdie werkers te “angstig” oor die pandemie is om die werk te verrig.

Dit is verregaande. Die VF Plus se voorstelle en vrae was suiwer daarop gemik om te verseker dat die toegewysde Covid-19-fondse, effektief en so ver moontlik met beskikbare hulpbronne, gebruik word om die impak van die pandemie op Noordwes-inwoners te beperk.

Hierdie reaksie van die LUR en haar weiering dat amptenare die werk verrig waarvoor hulle aangestel is en om eerder tenders uit te sit, laat die rooi ligte flikker.

Inwoners van Noordwes gaan reeds lank gebuk onder die rampspoedige effek van tenderpreneurs, staatskaping en korrupsie. Selfs Noordwes se premier, Job Mokgoro, het pas erken dat daar baie ernstige korrupsieprobleme in die provinsie is.

Enige wanaanwending van, of korrupsie met Covid-19-toegewysde fondse, sal egter die toppunt van hebsug wees en moet ten alle koste voorkom word. Die fondse is immers daar met die uitsluitlike doel om inwoners teen die bedreiging van Covid-19 te beskerm.

Die VF Plus doen 'n dringende beroep op die premier om onmiddellik effektiewe stappe te neem om die plundering van ook hierdie fondse te voorkom, en te verseker dat inwoners die beste moontlike beskerming teen die pandemie geniet.


Navrae: 082 529 3002

DeWetNelNoordWes#Covid19SouthAfrica

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!