Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Noodbegroting laat meer vrae as antwoorde

Vandag se sogenaamde nood- of spesiale aanpassingsbegroting van die minister van finansies, Tito Mboweni, spreek nie werklik die land se probleme aan nie en laat meer vrae as antwoorde oor die land se finansiële welsyn bestaan.

Suid-Afrika se ekonomie staan voor ‘n afgrond, staatskuld neem onbeheersd toe, werkloosheid het nuwe rekordhoogtes bereik, die opgeblase staatsdiens met sy vakbond-beskermhere sit stewig in die saal en tog wil die regering ‘n bykomende R43 miljard oor die volgende vier jaar deur belasting invorder.

Die staat se salarisrekening is buitensporig en almal weet dat daar ‘n besparing daarop moet plaasvind. Tog sê die minister dit is onderhewig aan onderhandelinge met die vakbonde terwyl die vakbonde dit reeds duidelik gemaak het hulle sal nie oor salarisbesnoeiings onderhandel nie.

Volgens minister Mboweni, gaan die belastinggaarder sy mikpunt in die huidige jaar met R300 miljard mis en die regering beplan om ‘n verdere $7 miljard te leen wat dan sal beteken die fiskus sal vanaf aanstaande jaar 83% van die BBP in beslag neem.

Dit moet in gedagte gehou word dat vandag se noodbegroting gebou is om die $7 miljard wat die regering beoog om te leen, maar waarvan nog net $1 miljard in hierdie stadium gewaarborg is. Dit is aanduidend van die ernstige krisis waarin Suid-Afrika hom bevind na jare van wanbestuur onder die ANC.

Een positiewe aspek is dat die minister met ‘n toekomstige zero-gegronde begrotingsproses in die regte rigting beweeg deurdat dit sal toesien dat die toekoms nie beplan word rondom onrealistiese ANC-aannames en begrotings nie en daar tred gehou sal moet word met die realiteit van die land se fiskale situasie.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika toenemend ‘n welsynstaat word met R25,1 miljard wat begroot word vir welsynsdienste en ‘n verdere R100 miljard vir werkskepping. Die werklikheid is egter dat die staat nie werk kan skep nie, maar slegs ‘n gunstige omgewing vir die ekonomie om te groei waarin werksgeleenthede geskep word.

Voor alles lê die staat se reuse skuldlas wat sy bates reeds verreweg oorskry en geen plan sal werk sonder om die staat se salarisrekening en die bodemlose putte van staatsondernemings daadwerklik aan te spreek nie.

Solank die regering nie bereid is om dit te doen nie, sal geen plan die land van fiskale rampspoed kan red nie.

Faktore wat verband hou met die Covid-19-pandemie soos mediese geriewe, verhoogde maatskaplike toelaes, werkloosheidsvoordele en hulp aan klein-sakeondernemings het vandag se nood-aanpassingsbegroting genoodsaak.

Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.