Nog ‘n boer koelbloedig vermoor

2019-11-26
Mnr. Fanie du Toit

Die VF Plus veroordeel die moord op mnr. Schalk van der Merwe en die wrede aanranding van sy vrou, Lettie, ten sterkste. Die egpaar is Sondag, 24 November, aangeval op hul plaas in die Noordwes-provinsie naby Wolmaransstad.

Die VF Plus sal voortgaan om druk op die regering te plaas om plaasmoorde en -aanvalle tot ‘n prioriteitsmisdaad te laat verklaar. Dit is onaanvaarbaar dat die beroep van ‘n boer gevaarliker is as om ‘n polisiebeampte te wees in Suid-Afrika.

Landbou is nie slegs ‘n beroep nie, maar ‘n roeping en elke Suid-Afrikaner se voortbestaan word bedreig deur die moord op nog ‘n boer.

Misdaad teen boere is ‘n misdaad teen die hele gemeenskap – nie net plaaslik nie, maar oor die hele land aangesien dit een van die faktore is wat voedselsekerheid bedreig.

Dit is tyd dat die ANC-regering ophou met lippetaal en daadwerklik die landelike veiligheidsplan in werking stel. Daar moet ook opgehou word met die stigmatisering en viktimisering van boere want dit strek nie net tot nadeel van die boere, hulle families en werkers nie, maar van die hele Suid-Afrika.

Die VF Plus doen ‘n ernstige beroep op landelike gemeenskappe om self ook beheer te neem van hul veiligheid en aan te sluit by georganiseerde veiligheidstrukture in hul omgewing en hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en verdedig.

Die VF Plus spreek sy innige simpatie uit met die familie van die oorledene en wens mev. Van der Merwe ‘n spoedige herstel toe.


Kontaknommer: 079 885 1135

 

NoordWesFanieDuToitPlaasmoordWolmaransstad

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!