(Debat in parlement: Suid-Afrika se kragprobleem en die dreigende ineenstorting van Eskom)
Dit is die ANC-regering en niks anders nie wat verantwoordelik is vir die land se kragprobleem en die ondergang van Eskom.
Só groot is die mislukking dat die regering dit selfs kon regkry om ’n onderneming wat ’n totale monopolie op kraglewering in die land gehad het en steeds het, tot bankrotskap te dryf.
Dit druis in teen alle ekonomiese grondbeginsels dat enige monopolie altyd teen 'n wins bedryf word. Die ANC het dit nogtans reggekry met regstellende aksie (RA), swart ekonomiese bemagtiging (SEB), wanbestuur, korrupsie en totale onbevoegdheid.
In 2002-21 is Eskom teen ’n verlies van R18 miljard bedryf nadat daar reeds in 2008 met beurtkrag begin is. ’n Legio verskonings soos nat steenkool en nou selfs markkragte word as verskoning aangebied.
Die realiteit is dat minder krag sedert 2008 opgewek word terwyl Eskom deurlopend meer personeel aanstel.
Van 2003 tot 2021 het die personeel aangegroei van 32 000 tot 43 000. Hoe meer die personeel, hoe minder krag is geproduseer.
Alternatiewe planne is beraam soos die aankoop van 87 000 solar-warmwatertoestelle deur die departement van minerale bronne en energie.
Slegs 7 000 van dié toestelle is tot vandag toe geïnstalleer terwyl die bergingskoste daarvan reeds R300 miljoen beloop. Dit is die ANC se idee van ’n oplossing vir die energiekrisis.
Anders as Midas, vernietig die ANC alles waaraan hy raak. Slegs die rykdom van die potensiaal van Suid-Afrikaners is hierteen bestand.
Dit, tesame met die feit dat die regering se rakleeftyd aangebreek het, is Suid-Afrika se enigste hoop en redding vir die toekoms.