Nelson Mandelabaai-metro: Verbeter diens voor salarisse verhoog

2022-06-21
Bill Harington

Die VF Plus steun nie 'n salarisverhoging van 4,4% vir raadslede van ʼn metro soos Nelson Mandelabaai (NMBM) met uiters swak dienslewering nie.

Dié geld kan eerder aangewend word vir die instandhouding van die uitgediende waterpypleiding sodat raadslede kan wys hulle is ernstig oor dienslewering en watersekerheid.

Die VF Plus is ook van mening dat verhogings vir eiendomsbelasting (5,5%) en sanitasie en vullisverwydering (6%) met sowat ʼn persentasiepunt moet verminder.

Watertariewe mag nie verhoog word nie. Die metro moet eers sy eie huis in orde kry en bewys lewer dat alles moontlik gedoen word om die waterstelsel in orde te kry voordat ʼn verhoging oorweeg kan word.

ʼn Verhoging van 6% is daarom totaal onaanvaarbaar. Die swak waterinfrastruktuur en -lekkasies is nie die inwoners se skuld nie.

Slegs 'n gedeelte van die metro se inwoners dek tans alle uitgawes. Hierdie handjie vol betaal die prys vir ʼn swak plaaslike regering en die voordele wat nie-betalers gratis ontvang. Betalers kan nie verder gemelk word nie.

Klem moet eerder daarop gelê word om die wanbetalers aan te spreek en gebrekkige fakturering reg te stel.

Die metro het ʼn geraamde werkloosheidskoers van 47% terwyl ekonomiese bedrywighede verder verlangsaam weens die swak bestuur van die metro. Ook dit is nie die getroue betalers se skuld nie.

Die metro het ’n swak inkomste-invorderingskoers van 46% op water wat aandui dat die amptenare nie hul werk doen nie en aanspreeklik gehou moet word.

Die voorgestelde kragverhoging van 7,47% teenoor Nersa se voorgestelde verhoging van 8,61% is aanvaarbaar alhoewel steeds heeltemal te hoog gewewe die feit dat verbruikers ook hier moet betaal vir jarelange wanbestuur en korrupsie.

Oortydbetaling moet besnoei word aangesien dit die deur oopmaak vir swak diens en bedrog waar amptenare doelbewus werk tydens normale ure vermy om ekstra geld buite ure te verdien.

Die kultuur van swak dienslewering wat vaardig geraak het onder amptenare, moet onverwyld aangespreek word.

ʼn Gesonde werksetiek moet op alle vlakke ontwikkel word deur onder meer seker te maak dat pligte volgens posbeskrywings uitgevoer word.

Waar die ANC jare lank ʼn aandeel het in regering, het verval en agteruitgang ingetree. Dit moet reggestel word. Die mense van NMBM verdien beter.

 

 

BegrotingBillHarringtonNelsonMandelaBaai

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!