Die meeste mense herken werkgeleenthede nie aangesien dit verbloem is in die vorm van harde werk. Hierdie woorde van die rubriekskrywer ‘Ann Landers’ is baie toepaslik vir Suid-Afrika. Harde werk is nodig om miljoene se afhanklikheid van maatskaplike toelaes te beëindig en geleenthede moet geskep word om vir hulle werk te gee.
Dit sou dus verwag word dat die regering groot moeite sou doen om groei te stimuleer by medium- en klein sake-ondernemings aangesien hulle ‘n groot rol in werkskepping speel. Dit gebeur egter nie. Die regering is nie veronderstel om die grootste werkgewer in die land te wees nie.
Die betrokke minister, Thulas Nxesi, het laat blyk dat sy fokus op transformasie gaan wees in stede daarvan om daadwerklik te fokus op werkskepping. Die VF Plus is van mening dat ‘n holistiese benadering gevolg moet word om werksekerheid en finansiële vooruitgang te verseker.
Transformasieteikens en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) moet uit die regeringsbeleid en wetgewing verwyder word. Dit sal die privaatsektor aanmoedig om die beste moontlike personeel aan te stel om ekonomiese groei te bevorder.
Jeugwerkloosheid is die hoogste ooit en volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) is 55,2% van jong mense tussen die ouderdom van 15 tot 24 werkloos terwyl 31% gegradueerde persone nie werk nie. Die rede hiervoor kan gesoek word by beleid wat wetgewing soos SEB en Regstellende Aksie (RA) rig wat uiters skadelik is vir die ekonomie en slegs ‘n klein elite bevoordeel.
Dit wil voorkom asof die fokus eerder op die aanstelling van beamptes geplaas word wat as waghonde oor werkgewers optree terwyl rigiede arbeidswetgewing soos die Wet op die Nasionale Minimumloon groot druk op werkgewers plaas en onvermydelike afleggings tot gevolg het.
Die minister voer aan dat dié wet nie tot grootskaalse afleggings gelei het nie. Hy moet in ag neem dit is eers op 1 Januarie vanjaar in werking gestel en die effek daarvan moet nog gesien word.
Wat seker is, is dat indiensneming met 237 000 gedaal het en dat werkloosheid in die eerste kwartaal van 2019 met 62 000 gestyg het, vergeleke met die vierde kwartaal van 2018 volgens SSA.
Alhoewel die werkloosheidsyfer die afgelope dekade geleidelik toegeneem het, is die afname in formele indiensneming die grootste jaarlikse werkverlies. Die afleiding kan hieruit gemaak word dat wetgewing werkvooruitsigte op intreevlak verminder het.
Tensy daar beduidende ekonomiese groei in die afsienbare tyd gaan plaasvind, gaan die koste van arbeid net te swaar druk klein- en mediumgroot-ondernemings. Hiervoor is drie oplossings: Meganiseer, werk self of sluit die onderneming en belê in ‘n land met beter vooruitsigte.
Die VF Plus se oplossing is vyfledig: Pas striemende arbeidswetgewing aan, beperk vakbonde se mag, doen weg met rasgegronde wetgewing, skep ‘n loonsubsidie vir die jeug wat nie diskriminerend is nie en werk nou saam met ander departemente, veral met hoër onderwys om die jeug vir die werkplek voor te berei.
Die Amerikaanse politikus David Bly het gesê om te streef na sukses sonder harde werk is soos om te probeer oes waar jy nie geplant het nie. Laat die harde werk in Suid-Afrika begin sodat almal in die land die vrugte daarvan kan pluk.