Nasionale Gesonheidversekering sterf nog voor geboorte

2016-11-25
Adv Anton Alberts

Daar is ʼn skokkende verval in die toestand van staatshospitale wat daarop dui dat die droom van die skep van ʼn Nasionale Gesondheidversekering-stelsel bloot ʼn droom is wat soos talle ander ANC-drome reeds voor geboorte besig is om te sterf, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor gesondheid.

Dit blyk uit inligting van die Nakomingskantoor van Gesondheidstandaarde wat daarop dui dat die meeste staatshospitale se standaarde ver onder die 70%-vereiste val wat verwag word van diensleweraars wat deelneem aan die nasionale gesondheidversekering. Tot en met 31 Maart 2016 het slegs 89 uit 1427 staatshospitale en klinieke die 70%-merk behaal.

Business Day het die inligting deur ʼn PAIA-aansoek bekom.

Adv. Alberts sê dit is ʼn skreiende aanklag teen die ANC-regering. Hy sê staatshospitale en klinieke waar talle mense onnodige lyding verduur en sterf verskil nie veel van menslike slagpale nie.

“Hierdie koue statistiek versteek die menslike lyding en pyn wat plaasvind in hierdie staatshospitale en klinieke waar die swak standaarde bloot die resultaat is van ʼn regering wat nie werklik omgee vir siek mense nie.

“Net soos meeste mense ʼn verhaal van misdaad kan vertel wat na aan hulle plaasgevind het, net so kan talle mense ʼn verhaal vertel van iemand wat swak behandel is of weens blatante nalatigheid gesterf het in ʼn staatshospitaal of -kliniek.

“Die ANC moet eerder aandag gee aan die aanstelling van private diensverskaffers om staatshospitale en klinieke te bestuur ten einde standaarde te verhoog en moet vergeet van ʼn duur en onwerkbare nasionale gesondheidversekering. Die ANC-regering self sal dit nooit regkry nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!