Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) begin reeds negatiewe uitwerking op ekonomie toon

2019-08-13
Philip van Staden

Die VF Plus se waarskuwings dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ‘n uiters negatiewe uitwerking op Suid-Afrika se ekonomie gaan hê, begin volgens aanduidings reeds blyk ‘n werklikheid word.

Met die wetsontwerp oor die NGV wat verlede Donderdag in die parlement ter tafel gelê is, het die Discovery groep se aandele reeds met die minister se aankondiging met 8.5% gedaal tot R115,47. Gister het hierdie groep se aandele ʼn verdere 8.4% gedaal en gesluit op R105,72, die laagste sedert 2014.

Die NGV-wetsontwerp begin nou reeds ‘n negatiewe uitwerking op Suid-Afrika se ekonomie toon en die VF Plus is bekommerd daaroor dat die ekonomie weens die nuwe nasionalisering van die land se gesondheidsdienste, enorme skade gaan ly.

Met ‘n huidige werkloosheidsyfer van 29% bestaan kommer dat indien die NGV die werk en bestaan van die tagtig geregistreerde mediese fondse in die land erg gaan inperk, hierdie syfer nog hoër kan raak aangesien mediese fondse personeel sal moet besnoei.

Bo en behalwe dit, sal baie gespesialiseerde medici ook die land uitstroom wat nog ‘n verdere negatiewe uitwerking op die ekonomie sal hê.

Die regering se poging om die gesondheidsdienste te nasionaliseer en volle beheer oor die administrasie en bestuur daarvan te hê, sal tot gevolg hê dat Suid-Afrika se NGV dieselfde pad gaan loop as Eskom, Transnet, Denel, die SAUK en vele ander. Die NGV gaan net nog ‘n maklike manier wees om diefstal te pleeg met die belastingbetalers se geld.

‘n Soortgelyke stelsel as die NGV in Brittanje, die NHS, werk nie eens ten volle daar nie en die Britse koerant, Daily Mail, het gister berig dat die stelsel besig is om inmekaar te stort weens ‘n personeelkrisis en dat pasiënte reeds nou drie weke wag op ‘n doktersafspraak. Van hierdie dokters het ‘n waglys van vyf weke.

Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die Suid-Afrikaanse regering ‘n stelsel aanpak wat nie goed deurdink is nie. Indien dit erge probleme in Brittanje toon, kan met reg gevra word watter gevolge dit in Suid-Afrika sal hê met swak administrasie, wanbestuur en korrupsie wat aan die orde van die dag is.


Kontaknommer: 060 556 4347


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!