“Die geskiedenis van grondhervorming sal eendag wys dat kosbare tyd en die goedgesindheid van boere tydens die Nkwinti-Zuma jare gemors is. Duisende hektaar produserende landbougrond is in hierdie tyd uit produksie gehaal as gevolg van mislukte grondhervormingsprojekte,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier by Nampo gesê.
Dr. Mulder het deelgeneem aan ʼn paneelbespreking oor grond by die jaarlikse Nampo Oesdag naby Bothaville.
As minister Nkwinti uit die bloute nuwe grondplafonne aankondig nadat georganiseerde landbou-organisasies met groot moeite alternatiewe voorstelle aan hom gedoen het, mis hy ʼn geleentheid vir sukses. Hy breek ook daardeur alle vertroue en goedgesindheid tussen die regering en die landbougemeenskap af, het Mulder bygevoeg.
Hy het voorspel dat die huur van landbougrond in Suid-Afrika gaan toeneem as gevolg van hoë grondpryse en die onsekerheid oor grondhervorming. Banke sal nuwe finansieringsprodukte moet begin ontwikkel om veral jong boere, wat nie grond as sekuriteit het nie maar grond huur, te kan bystaan.
Privaat besitreg van grond bly die basis vir ʼn vrye mark omgewing. Omdat grondhervorming tans nie op stamgronde toegepas word nie kan die waarde van miljoene hektaar potensiële vrugbare grond nie ontsluit word nie.
“Hoeveel rykdom kan nie geskep word as elke gesin sy woonerf of Hophuis in ʼn Township of sy stukkie grond in ʼn stamgebiede kon besit nie?” het Mulder gevra.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670