Ná 108 dae van inperking en honderde miljarde rand is Suid-Afrika steeds nie gereed vir piek van Covid-19

2020-07-12
Dr Pieter Groenewald

Ná 108 dae van die strengste Covid-19-inperking en honderde miljard rand wat bewillig is om die pandemie plaaslik te bestry, moes pres. Cyril Ramaphosa vanaand met die terugkeer na strenger regulasies erken dat die regering gefaal het in sy poging om die virus suksesvol te bekamp.

Die terugkeer na ‘n totale alkoholverbod en ‘n hernieude aandklok, dien as bewys dat die regering nou in die duister rondtas om oplossings te vind en dat hy voortgaan met irrassionele regulasies ten koste van die land se ekonomiese oorlewing,

Dit is ook duidelik dat daar verskillende maatstawwe vir verskillende sektore is. Die taxibedryf word byvoorbeeld toegelaat om teen volle kapasiteit te funksioneer terwyl die virusverspreiding besig is om sy piek te bereik terwyl die restaurantbedryf, wat grootliks van drankverkope afhanklik is om sake te doen, nou ‘n verdere nekslag toegedien word.

Die afgelope weke is drankverkope sonder ‘n aandklok toegelaat en die vraag kan gevra word waarom dit nou tegelyklopend ingestel moet word.

Suid-Afrikaners het oor langer as drie maande baie opgeoffer om die regering die geleentheid te bied om die gesondheidstelselgereed te kry vir die piektydperk van die virus, maar dit is nou duidelik dat die regering dit nie kon vermag nie.

Die rede hiervoor is tweevoudig: Die land se openbare gesondheidstelsel was in ‘n haglike toestand voor die koms van Covid-19, en daarna was die periode om gereed te maak gekenmerk deur ‘n vlaag van korrupsie en bedrog terwyl drakoniese en irrasionele regulasies die gesondheidstelsel se vermoë om voor te berei, verder gekortwiek het.

Die president het erken dat die regering nie daarin geslaag het om bestaande, basiese protokolle soos die dra van maskers suksesvol af te dwing nie terwyl dit alombekend is dat groot moeite gedoen is om onsinnige regulasies af te dwing soos om mense op strande in hegtenis te neem.

Die ANC-regering het na 26 jaar aan bewind gewys hy is onbevoeg om te regeer. Die land se ekonomie is vernietig, munisipaliteite is wanfunksioneel en staatsondernemings is bankrot.

Dit moet daarom nie as ‘n verassing kom dat die regering op dieselfde wyse misluk het in sy poging om Covid-19 te bekamp nie.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#Covid19SouthAfrica#AlcoholHasFallen

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!