Mynbou het blink- en donker kant met hidrobreking wat ‘n donker wolk op die horison is

2019-11-06
Dr. Wynand Boshoff

(Deklarasie in die parlement: Begrotingsverslag - departement van minerale hulpbronne)

 

Mynbou in Suid-Afrika toon tans ʼn blink- en ʼn donker kant met hidrobreking wat soos ʼn donker wolk op die horison lê.

Mynbou regoor die wêreld het 'n blink kant en 'n donker kant. Die blink kant is wanneer dit belegging lok en as enjin vir groei dien. Opbrengste word aangewend om sekondêre en tersiêre sektore te ontwikkel, sodat die uitputting van delfstowwe nie die ekonomie breek nie.

Die donker kant is wanneer winste uit die jurisdiksie waar die mynbou plaasvind, verwyder word ten koste van plaaslike inwoners. Die werklike welvaart word elders geskep; dit is niks anders as kolonialisme nie.

Suid-Afrika se mynbou toon tekens van die blink- en die donker kant. Aan die blinkkant het die mededingendheid van Suid-Afrika as beleggingsbestemming vir landbou van 81 uit 83 lande gevorder na 56. Dit kan aan verbeterde beleidsekerheid toegeskryf word, sowel as aan die feit dat stemming oor stakings voortaan geheim moet wees.

Die donker kant is dat uitgediende myne ook stukkende gemeenskappe en 'n beskadigde omgewing agterlaat. Die 43 verlate myne wat deur die departement gerehabiliteer moet word (20 is afgehandel) getuig daarvan.

Die VF Plus neem met kommer daarvan kennis dat die departement volhard met planne om skaliegas met hidrobreking te ontgin.

Hidrobreking is nie net onnodig, gegewe die groot reserwes van natuurlike gas aan die kus van Mosambiek nie, dit kan ook vernietigend vir die ander hulpbronne van die gebiede, grond en water, wees.

Die VF Plus sal 'n waghond wees dat, met betrekking tot mynbou, die blink kant bo gehou sal word.


Kontaknommer: 074 166 5540

 

DrWynandBoshoffEnergieMineraleHulpbronne

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!