Munisipaliteite moet fokus op herstrukturering en dissipline van oorlaaide personeelstrukture om effektiewe en betroubare dienslewering te verseker

2020-05-09
Mnr. Michal Groenewald

Gemeenskappe in Noordwes gaan reeds geruime tyd gebuk onder swak dienslewering en die verval van basiese infrastruktuur weens wanadministrasie en wydverspreide korrupsie

Hierdie situasie het reeds gelei tot gereelde voorvalle van gemeenskapsonrus wat verdere ontwrigting veroorsaak het en plaaslike ekonomieë bykans op hul knieë gedwing het. Ingrypings van die provinsiale regering in sommige munisipaliteite het tot dusver weinig vrugte afgewerp.

Om hierdie stand van sake te vererger, word verskeie dorpe in Noordwes reeds geruime tyd geteister en gyselaar gehou deur onwettige stakings van munisipale werkers wat lede is van vakbonde van die ANC se alliansievennote.

Die jongste tendens is onwettige stakings deur werkers in noodsaaklike dienste, soos water en kraglewering. Onlangse gevalle hiervan was waar elektrisiteitsdienste sporadies vir dae lank onderbreek is in Ventersdorp en omliggende gebiede.

Dit het gelei tot groot finansiële verliese onder boere en sake-ondernemings in die gebied. Hierdie week weer is ‘n groot gedeelte van Stilfontein sonder water gelaat weens ‘n staking van werkers in die Matlosana-munisipaliteit se water-afdeling wat geweier het om watertoevoer te herstel nadat ‘n hoof-toevoerpyp na die dorp gebars het.

Hierdie werkers staak om ekstra vergoeding te beding omdat hulle, as noodsaaklike dienste werkers, moet voortgaan met normale pligte terwyl ander munisipale werkers tuis bly weens die Covid-19-inperkings.

Die VF Plus het reeds by herhaling beroepe gedoen op munisipale besture en die provinsiale regering om dringend stappe te doen om weer dissipline in munisipaliteite te vestig en ‘n sin vir werketiek en dienslewering daar te stel.

Die feit dat selfs noodsaaklike dienste-werkers bereid is om op so ‘n siniese en opportunistiese wyse ‘n nasionale krisis uit te buit vir eie gewin, bewys tot watter laagtes die moreel van munisipale werkers in die provinsie reeds gedaal het. Enige pogings van die provinsiale regering of munisipale besture om die situasie reg te stel, het kennelik nie gewerk nie.

Om te verhinder dat dienste en infrastruktuur in Noordwes totaal in duie stort, het dit nou noodsaaklik geword om kragtige stappe in munisipaliteite in werking te stel. Munisipale besture behoort in hierdie tyd indringend te besin oor wyses om effektief van onbekostigbare “dooie hout” in hul personeelstrukture ontslae te raak.

Hulle behoort hul diensstrukture te rasionaliseer en ferm leiding neem om weer ‘n professionele, maar kleiner werkerskorps met ʼn sterk werketiek daar te stel. Belastingbetalers kan nie voortgaan om ‘n oorlaaide en dislojale werkmag te vergoed vir dienste wat hulle bloot nie lewer nie.

Die VF Plus sal voortgaan om op alle vlakke van regering druk toe te pas om die volhoubaarheid van dorpe en munisipaliteite te verseker.


Kontaknommer: 079 409 8342

DiensleweringNoordWesMunisipaliteiteMichalGroenewaldCoGTA#Covid19SouthAfrica

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!