Mpumalanga se departement van onderwys het meer as R2,6 miljard die afgelope finansiële jaar met ongemagtigde en onreëlmatige besteding vermors.
In sy skriftelike antwoorde op vrae van die VF Plus, het die onderwys-LUR, mnr. Bonakele Majuba, erken dat daar teen einde Oktober 2022, sowat R816 miljoen se ongemagtigde besteding was.
Die totale bedrag van onreëlmatige besteding het sowat R1,8 miljard beloop.
’n Groot deel van hierdie wanbesteding bestaan uit 249 sake wat verband hou met infrastruktuurprojekte wat die bou van skole en koshuise insluit.
Die departement van openbare werke, paaie en vervoer was die uitvoerende besluitnemer vir hierdie projekte. Hierdie 249 sake word tans deur Mpumalanga se spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek.
Daar is nog 70 van die 249 sake wat nie afgehandel is nie.
Die wetgewer se portefeuljekomitee vir onderwys het opdrag gegee dat hierdie sake binne die volgende finansiële jaar gefinaliseer moet word.
Mpumalanga het die naashoogste syfer vir ongeskooldheid landswyd.
Dit is dus onaanvaarbaar dat die departement, wat veronderstel is om regverdige toegang tot skole te verseker, nie in staat is om sy finansies effektief te bestuur nie.
Die VF Plus het verdere vrae rondom hierdie saak ingedien en sal aanhou druk op die departement plaas om sy sake in orde te kry tot voordeel van die leerders van Mpumalanga.