Mpumalanga-regering bestee meer as R300 miljoen aan projekte wat nie bestaan nie: VF Plus dien klag in by OB

2021-12-01
Werner Weber

Die VF Plus in Mpumalanga het ʼn klag by die openbare beskermer (OB) ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat die provinsiale departement van kuns, kultuur en sport vanaf 2011 meer as R300 miljoen aan twee projekte in die provinsie bestee het terwyl beide erwe wat vir die projekte aangekoop is, steeds dolleeg staan.

Dit dui in hierdie stadium op ernstige ongerymdhede.

Die LUR vir kuns, kultuur en sport, Thandi Shongwe, het tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die provinsiale wetgewer einde verlede week aan die VF Plus gesê die departement sélf verstaan nie wat aangaan nie en dat daar reeds deur die argiewe gewerk word om fakture en kwitansies te soek om vas te stel wat van die geld geword het.

In 2011 het David Mabuza, toe premier van die provinsie, die planne vir ʼn prestasiesentrum in die eMakhazeni-plaaslike munisipaliteit (Belfast/ Dullstroom/Machadodorp/Waterval-Boven) en ʼn kulturele kern in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier), bekend gestel. Die projekte sou die provinsie, volgens die aanvanklike planne, R5 miljard elk kos.

Tydens onlangse besoeke aan beide projekte, het die VF Plus net leë, onkruid-oorgroeide erwe gevind. Geen strukture is opgerig nie, grond is nie gelykgemaak of ontbos nie, geen waterpype is gelê nie en geen konstruksiewerkers was in sig nie.

Luidens die departement se jaarlikse prestasieplanne, is daar sedert die 2012/2013-finansiële jaar tot die 2020/2021-finansiële jaar, jaarliks tussen R22 miljoen en R94 miljoen vir die opleidingsentrum in eMakhazeni begroot.

Op skriftelike vrae van die VF Plus het Shongwe geantwoord dat daar reeds R144 444 000 aan die prestasiesentrum en R172 869 000 aan die kulturele kern bestee is. Die ware bedrag kon nie vasgestel word nie aangesien die uitgawes nêrens op skrif voorgelê is nie.

Die departement hou vol dat die R317 313 000 wat reeds aan beide projekte bestee is, die koste van die grond, argitek- en ingenieursdienste en vatbaarheidstudies was, alhoewel geen bewyse, kwotasies of kwitansies tot dusver aan die VF Plus verskaf kon word nie.

Die totale begroting vir die kulturele kern in Witrivier, volgens dieselfde jaarlikse prestasieplanne vanaf die 2012/2013-finansiële jaar, is R204 016 000. Die onbewerkte, 20,9-hektaar stuk grond net buite Witrivier, is vir R14,9 miljoen aangekoop.

Volgens Shongwe se antwoorde op die VF Plus se vrae, was die totale begroting vir die kulturele kern R216 697 000, wat R12 681 000 meer is as wat die prestasieplanne wys.

ʼn Bykomende R10 miljoen is in die 2016/2017-boekjaar vir beide projekte begroot, glo om privaatbelegging te beveilig. Tot dusver kon die departement egter nie private beleggers lok nie.

Hierdie roekelose wanbesteding van provinsiale geld oor meer as ʼn dekade en die geheimsinnigheid waarin die gehul word, is onaanvaarbaar. In ʼn provinsie waar finansiële hulpbronne skaars is, kon sulke buitensporige bedrae eerder aan behuising en dienslewering bestee word.



 

WernerWeberMpumalangaopenbarebeskermer#CulturalHub#PerformanceCenter

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!