Mosie van wantroue in premier Makhura is tekenend dat publiek vertroue in ANC verloor het

2021-03-02
Adv Anton Alberts

(Wantroue-debat in Gauteng-wetgewer)

Die VF Plus het tydens die debat oor die mosie van wantroue in die Gautengse premier, David Makhura, dit duidelik gestel dat die party die mosie beskou as een van wantroue in die ANC as regering omdat die inwoners van Gauteng vertroue in dié party verloor het.

Die feit dat die mosie met net vier stemme nie geslaag het nie, kan as bewys dien van die ANC se tanende gewildheid. Trouens, die ANC het met net een setel die provinsie behou na die 2019-verkiesing en sal waarskynlik in 2024 onder die 50% drempel val.

Die VF Plus het geargumenteer dat die ANC met waansinnighede besig is in die vorm van verskeie sondes wat die direkte oorsaak is dat kiesers in Gauteng al hoe minder vertroue in hom het.

Hierdie sondes kom voor in talryke vorme soos die Life Esidimeni-skandaal, die voortslepende e-tol-sage, die Hoërskool Overvaal-geweld, die groeiende armoede-spiraal weens swak beleidskeuses, die hoë misdaadvlakke, die gebrek aan kwaliteit onderwys, die verval van hospitale, plaaslike regerings onder die ANC wat inplof, gebrek aan omgewingsbewaring in die Vaalrivier en elders in Gauteng, Covid-19-korrupsie en die sentralisering van voedselhulp tydens die grendelstaat.

Soos die VF Plus gewaarsku het tydens die debat oor die provinsiale rede, sal die ANC moet ophou om die gat waarin hy is, dieper te grawe.

Dis egter duidelik dat die ANC, ten spyte van goeie advies uit verskeie bronne, steeds hardkoppig aanhou grawe.

Na elke groot skandaal word plegtig belowe dat die ANC 'n omkeerplan het, maar uiteindelik kom daar dadels van weens gebreke in die betrokke plan asook swak implementering.

Daarom is dit 'n gegewe dat die ANC 'n sistemiese probleem in die Gautengse landskap is.

Die ANC sal uiteindelik die prys betaal soos kiesers al hoe meer vertroue in die ANC-regering verloor.



GautengAdvAntonAlbertsANCDavidMakhuraWantroueDebat

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!