Mogale City draai rug op ondernemings met verhoogde tariewe

2021-03-30
Tjaart Steenkamp

Ondernemings in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) wat die Covid-19-pandemie tot op hede oorleef het, moet geen belastingverligting van die munisipaliteit verwag nie.

Die munisipaliteit wat Vrydag sy 2021/22-finansiële begroting voorgelê het, het min simpatie met sukkelende huishoudings en ondernemings betoon met die aankondiging van verhoogde tariewe vir elektrisiteit, vullisverwydering, sanitasie en water.

Die enigste ligpunt is eiendomsbelasting wat onveranderd bly.

Pensioenarisse bo 70 jaar kwalifiseer vir ʼn 100% afslag op hul eiendomsbelasting mits die eiendomswaarde nie R1 miljoen oorskry nie en die huishouding-inkomste minder as R150 000 per jaar beloop.

Die VF Plus het die munisipaliteit gemaan om sy rieme dun te sny om dié onbefondsde begroting te laat klop. ʼn Bedrag van R290 miljoen moes vanuit die bedryfsbegroting gesny word om uiteindelik die begroting te balanseer.

Die munisipaliteit se skuldinvordering-persentasie is nadelig beïnvloed weens die Covid-19-pandemie waartydens werkloosheid toegeneem en talle ondernemings hul deure moes sluit. Die munisipaliteit het sedert Julie tot Desember verlede jaar R111 miljoen aan inkomste verloor.

Die munisipaliteit is reeds in die rooi en sukkel om skuldeisers soos Eskom te betaal. Sy uitstaande rekening beloop R190 miljoen en daar is ʼn terugbetalingsooreenkoms van R61 miljoen per maand wat verlede maand reeds nie nagekom is nie.

Die tariefverhogings is as volg:

Water : verhoog met 5.8%
Vullisverwydering : verhoog met 3.9%
Elektrisiteit : verhoog met 15.6%
Sanitasie : verhoog met 5.8 %

Die VF Plus sal voortgaan om die munisipaliteit op die hart te druk dat ondernemings in Mogale City tegemoet gekom en ondersteun moet word om werkskepping en ekonomiese groei te stimuleer.



 

MogaleCityTjaartSteenkampTariefverhogings

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!